Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel wat geduldiger as ons was: die vrou wat aan bloedvloeiing gely het - 28 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

25Daar was ook 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. 26Sy het baie gely onder die behandeling van talle dokters en het alles wat sy gehad het, daaraan bestee. Sy het egter geen baat daarby gevind nie; haar toestand het eerder vererger.

27Sy het van Jesus gehoor en in die gedrang nader gekom en van agter af aan sy klere geraak, 28want sy het gedink: as ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.

MARKUS 5:25-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons weet nie verseker aan watter siekte hierdie vrou in Markus 5 gely het nie, maar ons weet wel dat haar stryd met die siekte meer as net haar liggaam beïnvloed het. Volgens die Joodse wette het hierdie siekte veroorsaak dat sy, enigiemand wat aan haar geraak het of enigiets wat sy aangeraak het, seremonieel onrein verklaar is. Stel jou voor, die afsondering en stigma wat sy moes verduur – afgesny van ‘n normale lewe, van haar geliefdes en die troos van gemeenskaplike byeenkomste. Haar onreinheid het haar egter nie verhinder om selfs in ‘n groot skare mense na genesing te soek nie.

Die vrou het besluit om te midde van die skare wat om Jesus saamgedrom het nader te gaan en te probeer om aan sy klere te raak. Haar geloofsdaad was buitengewoon, want sy het geglo dat selfs hierdie indirekte aanraking genoeg sou wees om haar te genees. Haar geduldige poging om Jesus op die regte oomblik te nader en haar onwrikbare geloof in sy genesende krag, laat haar uitstaan.

Die oomblik toe sy Jesus aanraak, was deurslaggewend. Jesus het gevoel hoe daar krag van Hom uitgaan en Hy het onmiddellik omgedraai en haar geloof erken en vir haar gesê: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede. Wees vir goed van jou kwaal genees!” (Markus 5:34) Op daardie oomblik is sy genees en herstel en is haar geduld en geloof beloon.

Ons beleef dikwels uitdagings wat dreig om ons te isoleer en deur ons probleme gedefinieer te word. Ons kan egter, soos die vrou wat aan bloedvloeiing gely het, besluit om met geloof en geduld aan te beweeg. Ten spyte van hindernisse en terugslae, kan ons Jesus vertrou om ons geloof raak te sien en volgens sy wil genesing en herstel in ons lewens te bewerkstellig.

Gebed: Genadige Vader, leer ons om U in volle vertroue te nader en gee dat ons in u krag van genesing en verandering sal glo. Ons vra dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS