Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Jogebed - 15 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

23Omdat die ouers van Moses geglo het, het hulle hom na sy geboorte drie maande lank weggesteek toe hulle sien dat hy 'n mooi kindjie is. Hulle was nie bang vir die bevel van die koning nie.

HEBREËRS 11:23AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die verhaal van Jogebed, Moses se moeder, getuig van ‘n moeder se onwrikbare liefde en opofferende hart. Die farao se bevel dat alle Hebreeuse babaseuntjies doodgemaak moet word, het Jogebed met ‘n ondenkbare besluit gekonfronteer – om haar pasgebore seuntjie te beskerm of hom oor te gee om doodgemaak te word.

Jogebed het, toe sy hierdie hartverskeurende keuse moes maak, buitengewone geduld, krag en opofferende liefde aan die dag gelê. Vir drie maande het sy hom weggesteek, besluit om die koning se bevel te verontagsaam en geweier om deur angs verlam te word. Jogebed het besef daat haar kind geen gewone seuntjie is nie. Hy was ‘n kind met ‘n goddelike doel.

Aangevuur deur haar diepgaande liefde vir Moses en haar onwrikbare geloof in God se plan, het Jogebed ‘n dapper besluit geneem. Sy het ‘n mandjie gekry, dit met pik en teer dig gemaak en toe haar babatjie saggies daarin neergelê. Toe het sy die mandjie aan die kant van die Nylrivier tussen die riete neergesit en God vertrou om haar kind te beskerm en sy lewe te spaar.

Haar geloof en geduld is beloon toe die farao se dogter Moses ontdek en die huilende kind in die mandjie haar hart met deernis gevul het. Ten spyte van die pynlike opoffering om haar seuntjie te laat gaan, het Jogebed se liefde en dapperheid daartoe gelei dat Moses opgegroei het in die huis van die persoon wat aanvanklik daardie doodsbevel uitgevaardig het.

Ons leer vandag steeds ‘n groot les uit Jogebed se onselfsugtige daad om Moses aan die onbekende oor te gee en God volkome te vertrou. Ons beleef ook soms uitdagende situasies wanneer dit nodig is om te laat gaan en ons geliefdes en hulle omstandighede aan God se sorg toe te vertrou.

Wanneer ons moeilike besluite moet neem of lang tye van wag beleef, moet ons aan ons geloof vashou, want ons weet dat God aan die werk is. Deur ons opofferings en liefdesdade kan God se goddelike plan ontvou, selfs op ‘n manier wat ons verstand te bowe gaan.

Gebed: God van genade, dankie vir Jogebed se kragtige voorbeeld van opofferende liefde, geduld en vaste geloof. Help ons om ander met opoffering lief te hê want ons weet dat U hulle lewens en toekoms in u hand hou. Ons bid dit in die Naam van Jesus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS