Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Maria en Josef - 24 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

30Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou. 31Jy sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.

LUKAS 1:30-31AFR83Maak oop in die Bybelleser

Maria, ‘n jongmeisie van Nasaret, het ‘n besoek van ‘n engel ontvang wat die verloop van die geskiedenis sou verander. Sy is vertel dat sy sou swanger word en geboorte aan die Seun van God sou gee. In ‘n samelewing waar swangerskappe buite die huwelik met veragting en skaamte begroet is, is Maria se geduld en geloof op hierdie onbekende pad werklik getoets. Tog het haar reaksie van haar geloof getuig: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” (Lukas 1:38)

Josef het ook met ‘n situasie geworstel wat baie geduld geverg het. Toe hy hoor dat Maria swanger was, het hy hom in ‘n morele dilemma bevind. Maar die boodskap van die engel het hom van God se volmaakte plan en ook van die rol wat hy daarin sou speel, verseker. Josef se geduldige gehoorsaamheid is duidelik. Hy het Maria as sy vrou geneem en haar en die kindjie wat nie sy bloedkind was nie versorg, want dit was so deur God bestem.

Onderweg na Betlehem, is Maria en Josef se geduld en vertroue in God verder getoets. Ten spyte van die uitdagings van ‘n lang en moeisame reis, het hulle vasgehou aan God se belofte. En daardie nag, in die nederige stal, is hulle geduld en geloof beloon toe hulle deel was van die geboorte van die langverwagte Messias.

In ‘n wêreld waar vinnige oplossings en onmiddellike resultate dikwels hoog geag word, is Maria en Josef se geduld en vertroue ‘n baken van lig. Hulle verhaal herinner ons daaraan dat God se tydsberekening foutloos en sy beloftes seker is.

Gebed: Genadige God, help ons om altyd u plan te vertrou, selfs wanneer dit nie aan ons verwagtinge voldoen nie. Gee dat ons lewens dieselfde geduldige gehoorsaamheid en onwrikbare vertroue as die van Maria en Josef sal weerspieël. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS