Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: die dissipels - 25 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

LUKAS 21

17En julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar 18daar sal selfs nie eens 'n haar van julle kop af val nie. 19Deur julle volharding moet julle julleself red.”

LUKAS 21:17-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die dissipels se reis saam met Jesus word gekenmerk deur diepe openbarings, wonderlike ontmoetings en beproewings. In hulle wandel met die Messias is hulle geduld gereeld beproef wat hulle tot getroue volgelinge van Christus gevorm het.

Die dissipels se geduld is behoorlik beproef terwyl hulle geworstel het met hulle eie verwagtinge van hoe die Messias se koninkryk daar moet uitsien. Hulle het gesukkel om die geestelike aard van sy sending te begryp, en het dikwels na posisies van eer en aansien gesoek. Maar Jesus het hulle geduldig gelei en hulle geleer dat nederigheid en offervaardige liefde sy koninkryk karakteriseer.

In Lukas 21 waarsku Jesus sy dissipels oor die uitdagings wat hulle as sy volgelinge sal beleef. Hy sê dat hulle ter wille van Hom gehaat en vervolg sou word. Jesus moedig hulle aan om in die aangesig van teëspoed vas te staan en dit te verduur want geen haar sal van hulle koppe val nie. Hy verseker hulle dat geduld en vaste geloof hulle na die ewige oorwinning sal lei.

Jesus beloof nie vir hulle ‘n lewe sonder lyding of beproewing nie. Hy wys sy dissipels op die ewige waarheid wat hierdie tydelike bestaan oorskry. Sy woorde laat ons opnuut besef dat ons uiteindelike sekuriteit in die hande van God is, en ons siele deur sy beloftes beveilig word.

Die belofte dat “daar sal beslis geen haar van julle koppe val nie” is ‘n verklaring van die ewigheidsaard van die verhouding tussen Christus en sy volgelinge. Dit is ‘n belofte geanker in die geestelike ryk, daar waar fisiese skade en beproewings nie die ewige betekenis van ons geloof kan uitwis nie.

Net soos die dissipels moes leer om vas te staan en om deur geduldige volharding die lewe te wen, kan ons ook krag vind in Christus se belofte dat ons deur ons geduld en geloof die ewige oorwinning sal behaal.

Gebed: Hemelse Vader, leer ons om geduldig alles op ons eie dissipelskapreis te verduur. Gee dat ons in die aangesig van opposisie vas sal staan en aan u beloftes sal vashou. Ons bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS