Bible Society of South Africa

Twee en twintig mense in die Bybel met meer geduld as ons: Kaleb - 14 Augustus 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

10“Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou 'n man van vyf en tagtig, 11maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Die krag wat ek toe gehad het, het ek nou nog. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom. 12Gee my nou asseblief die bergwêreld waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enakiete is en groot vestingstede. Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het.”

JOSUA 14:10-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kaleb se verhaal begin toe hy en die Israeliete veilig deur die Rietsee (Rooisee) getrek het en kon getuig hoe God hulle wonderbaarlik van onderdrukking in Egipte verlos het. Met harte vol verwagting, het hulle die reis na die land wat oorloop van melk en heuning aangepak, die erfdeel wat God aan hulle beloof het.

Toe Kaleb daar aan die rand van die woestyn gestaan het en oor die land uitgekyk het, het hy egter geen idee gehad dat dit 40 jaar sou neem voordat hy die beloofde land sou kon binnegaan nie. Ten spyte van die verslag wat hy en Josua met hulle terugkeer van hulle verkenningstog gelewer het, het die meeste Israeliete God se plan bevraagteken en daarteen gerebelleer. Vir hulle straf het hulle toe in die woestyn rondgedwaal totdat ‘n hele geslag uitgesterf het.

Sonder sy toedoen het Kaleb hom in die woestyn bevind waar hy geduldig op die vervulling van God se belofte gewag het. Daardie 40 jaar het sy geloof en vasberadenheid getoets, maar hy het op die Here bly vertrou. Kaleb se getrouheid en sy geduld is duidelik wanneer hy vir Josua sê: “Ek is vandag nog so sterk soos op die dag toe Moses my uitgestuur het. Soos my krag toe was, so is my krag nou nog om vir oorlog uit te trek …” (Josua 14:11)

Kaleb, een van die verkenners wat na die beloofde land gestuur is, se lewensreis is ‘n kragtige getuienis van vaste geloof en geduld. Dit is ‘n verhaal wat ons daaraan herinner dat, ongeag ons omstandighede, God se beloftes seker is.

Gebed: Hemelse Vader, wanneer ons seisoene van onsekerheid beleef, help ons om op u beloftes te vertrou. Help ons om uitdagings geduldig te verduur omdat ons weet dat u Woord getrou en seker is. Ons bid dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS