Bible Society of South Africa

Stilte: Wees stil en weet - 22 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

PSALMS 46

11Bedaar en erken dat Ek God is,

hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.

12Die Here, die Almagtige, is by ons,

die God van Jakob is vir ons 'n beskutting. Sela

PSALMS 46:11-12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die liedjie uit die Liedboek van die kerk is dalk klaar in jou kop.

Wees stil en weet Ek is die Heer
Ek spreek en wind en golwe bedaar
Ek sal ook jou getrou bewaar

Wees stil en weet Ek is die Heer
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag
Ek is by jou, Ek gee jou krag

Wees stil en weet Ek is die Heer
Bly waak en bid, volhard in geloof
Ek is by jou soos Ek beloof

Die boodskap is duidelik – God is by ons, Hy bewaar ons en Hy sal ons dra deur die moeilike tye, die hartseer tye, die swaar tye en ja, Hy is ook daar in die vreugdevolle tye.

Hierdie lied is vir my ook ’n herinnering dat ek nie op my eie kragte hoef staat te maak as dinge te veel raak nie. Ek kan stil raak en na God draai.

Daar kom mos maar tye wat ’n mens voel jy kan net nie meer nie, jy het gewoon nie meer die fisiese of emosionele kapasiteit om te veg en te baklei teen die aanslae van die lewe nie. Daar kom ’n punt waar ’n mens net wil opgee. En weet jy wat? Jy kan maar oorgee aan God, jy mág net stil raak en vir Hom vra om jou te dra deur die moeilike of hartseer tye. Ons moet net volhard in geloof en aanhou om op God te vertrou.

Gebed: Vader, help my om stil te raak en na U te draai. Dankie dat U my bewaar en dra, maak nie saak waardeur ek gaan nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS