Bible Society of South Africa

Stilte: Maak tyd vir stilwees - 23 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

6Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.

“Pieng” maak jou selfoon. Jy kry ’n e-pos en nog en nog een … Op die radio word daar oor ernstige sake gesels, maar ook oor nonsens. In die winkelsentrums is almal besig met hul eie gesprekke en lysies. Die wêreld is maar ’n lawaaierige plek, nie waar nie?

Oral is geraas en menings en inligting. Nog en nog inligting oor alles en nog wat. Nog en nog boodskappe – uitnodigings, aanmanings, advertensies.

Jesus gee in die gedeelte van Matteus vir die mense riglyne oor hoe om te bid – die les is egter nie dat jy alleen en afgesonder móét bid nie, maar in die feit dat jy nie ander hoef te probeer beïndruk met jou gebede en groot woorde nie.

Tog lig die gedeelte vir my nie net die belangrikheid van gebed uit nie, maar ook die noodsaaklikheid van stilte. Die verwysing van ’n kamer, waar jy die deur toetrek en alleen met God praat of net alleen saam met God is – in stilte, klink vir my salig.

Ja, soms bid ’n mens sommer net daar waar jy is, maak nie saak waar dit is nie. En dis reg, want God sal jou daar ook hoor. Maar ek glo dit is ook soms nodig om iewers stil te raak, jy en jou gedagtes om in stilte met God te kommunikeer. Ook net in stilte by God te wees. Dis dikwels ook wanneer ek en alles om my stil raak, wat ek God se stem voel, nie net in my hart hoor nie, maar ook voel.

Hier is die uitdaging: Kyk of jy iewers die week ’n kort tydjie vir stilte kan vind. Kyk of jy tyd kan afknyp vir stilte saam met God. Dalk is dit vir vyf minute in jou kar voor jy wegtrek werk toe. Dalk is dit in die halfuur voor jy gaan slaap, alleen in jou slaapkamer. Dalk is dit wanneer jy sit en wag vir iets of iemand. Kyk of jy iewers ’n oomblik van stilte kan vind.

Ek glo dit sal vir jou, net soos vir my, sinvol en verrykend wees.

Gebed: Here, help my om in hierdie raserige besige lewe stil te raak, sodat ek kan asemskep en daarop kan fokus om u stem in my lewe te hoor. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS