Bible Society of South Africa

Stilte: Jesus maak die storm stil - 21 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

MATTEUS 8

26Hy sê vir hulle: “Waarom is julle bang, kleingelowiges?”

Daarna het Hy opgestaan en die wind en die see hard aangespreek, en dit het doodstil geword.

MATTEUS 8:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Elkeen van ons het storms wat in ons lewens woed. Sommige van ons is besig om baie groot, verwoestende orkane te trotseer. Vir ander is dit bloot ’n ontwrigtende reënbui wat ons sake kom omkrap. Jou storm is dalk nie eers regtig ’n storm nie, maar ’n wolkbreuk wat jou ore laat hang.

Hoe dit ook al sy, ons elkeen het verskillende dinge in ons lewens wat ons bekommerd en angstig en bang laat voel. Daar is nie iets spesifiek wat tel as ’n storm nie. Daar is van ons wat sukkel met verhoudings, vir party mense is daar familiedinge of werkdilemmas wat ’n storm in hul harte veroorsaak. Daar is mense wat geld-storms, gesondheid-storms of trauma-storms beleef.

Een van die storms wat in my lewe woed is die gesondheidsuitdagings van ’n peuter wat elke derde week ’n nuwe kiem van die dagsorg af bring. Dit veroorsaak vir my as ma, ontsettende spanning en angs want dit is onvoorsiene uitgawes vir doktersbesoeke en medikasie en planne-maak en reëlings tref by die werk. En dan maak ek ook natuurlik die fout om saam met die moeilike nagte, alles vooruit te loop en te bekommer oor al die “wat as”- en “sê nou maar”-scenarios. Voor ek myself kan kry, is ek sommer diep bedroef oor die lewe.

Maar. Daar is mos altyd ’n maar. Dit is ook nie die eerste keer dat ek ’n storm in my lewe moet aandurf nie. Dis nie die eerste keer wat ek voel daar is dinge wat ek nie kan beheer nie. En as ek terugkyk na die vorige kere – die vorige verkoues en griepe en watter kieme ons ook al moes oorkom terwyl ’n mens kinders grootmaak, besef ek ook ons het elke keer deur dit gekom. Daar was elke keer ’n dokter wat omgee, ’n vriendin wat bemoedig, ’n oupa of ouma wat hand bysit, ’n bestuurder by die werk wat met empatie luister en troos, en eindelik beterskap. Daar was elke keer stilte ná die storm. En nie net stilte nie, ook verligting en vreugde en dankbaarheid.

My voorbeeld is eenvoudig. Joune is dalk nie. Jy kan dalk vasgevang voel in ’n situasie wat jou laat voel asof jy nie dié storm gaan oorleef nie. Asof dit jou gaan platvee soos wat orkaan Milton met huise en bome in Florida gemaak het. Dat daar net stukke van jou gaan oorbly.

Dink aan hoe Jesus die storm vir die dissipels stil gemaak het. Dink aan die krag wat in sy woorde was toe Hy die wind en die water aangespreek het. Net so sal Hy die storm in jou lewe kom stilmaak. Vra vir Hom. Sê as jy bang voel.

Ons Vader luister en Hy maak storms stil – grotes, kleintjies, selfs daai storm in ’n teekoppie waaroor jy dalk simpel voel. Dis wat Hy doen.

Gebed: Here, daar woed storms in my lewe. Van hulle is groot en maak my bang, van hulle is klein. Maak asseblief die storm stil. Help my om rustig te raak en te onthou dat U in beheer is. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS