Bible Society of South Africa

Stilte: God is daar in die stilte - 24 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

PSALMS 37

7Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou

en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie.

Het jy al ooit vir iemand iets gevra en die antwoord is: “Ek sal daaroor dink”? Moes jy ook al geduldig wag om te hoor hoe sake gaan uitspeel, ná jy ’n versoek gerig het by die werk? Dit kan nogal senutergend wees om so te wag vir ’n antwoord.

Soms moet ’n mens wag vir ’n antwoord ná ’n operasie of mediese toetse. Soms wag jy vir die uitslag van ’n akademiese toets. Partykeer moet jy lank wag om te hoor of jy die werk gekry het ná jy vir ’n senutergende onderhoud gegaan het.

Ons almal word maar in ’n stadium met ’n tyd van stilte gekonfronteer. Daar is nie altyd dadelik ’n antwoord op ons vrae of versoeke nie.

Dit is wel so dat die tye van stilte senutergend kan wees. Dis nie lekker om nie te weet wat volgende gaan gebeur nie. Dit laat jou met ’n gevoel van onsekerheid – die perfekte lokval vir mense wat maklik dinge oordink of die ergste verwag. Voor jy weet, is jy ’n senuweewrak omdat jy jouself al verskeie situasies ingedink het.

Ons moet mekaar herinner dat God ook daar is in die stilte. God is nie net daar om die stukke op te tel wanneer jy dalk ’n minder gewenste antwoord gekry het nie. God is nie net daar om voor dankie te sê as dinge presies uitgedraai het soos wat jy gehoop het nie. Ons moet onthou, God is daar terwyl ons wag – in die stilte. Terwyl ons wag, sonder ’n antwoord.

God is altyd daar. Hy is ook daar in die stil tye van ons lewens.

Gebed: Baie dankie Vader, dat U daar is vir my wanneer ek wag vir antwoorde. Dankie dat U by my is en weet wat die uitkoms gaan wees, nog voor ek weet. En dankie dat ek kan glo en vertrou dat U my ook verder sal lei, maak nie saak wat nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS