Bible Society of South Africa

Stilte: Stilte is ook ’n antwoord - 25 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

1 JOHANNES 5

Voorbidding

14En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. 15En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.

1 JOHANNES 5:14-15AFR83Maak oop in die Bybelleser

Dis mos maar menslik om jou sin te wil hê. En ek is eerlik, ek kan ook maar lekker omgekrap voel as ek nie my sin kry nie. Hoekom kan dinge nie net verloop soos ek daarvan hou nie?

Veral wanneer ons bid en vir God sekere dinge vra, wil ons mos maar eintlik ook graag ons sin hê.

Ons weet God luister, want dit staan so in die Bybel en daar is soveel getuienis van mense wat kan vertel hoe hul gebede verhoor word. Maar ja, soms kry ons nie dadelik ’n antwoord op ons gebede nie. Soms is daar iets wat voel soos ’n oorverdowende stilte. Dis dan wat dinge nogal uitdagend kan raak.

Dit kan moeilik wees om te glo dat God ons hoor as dit waarvoor ons vra, nie gebeur soos ons dit graag sal wil hê nie.

Ons moet egter onthou, soos 1 Johannes 5:14-15 sê, dat God luister. Hy luister altyd en Hy weet wat ons nodig het. En ja, soms is daai antwoord stilte. Stilte vir nou. Stilte vir ’n ruk. Tot dit die regte tyd is, tot dit die regte ding is. God weet tog beter. Hy weet wat ons nodig het. En soms moet ons daarby berus dat stilte, óók ’n antwoord is.

Gebed: Here, help my om te onthou dat U my gebede hoor, selfs al kry ek nie altyd die antwoord waarop ek gehoop het of die ding waarvoor ek gevra het nie. Help my om te glo dat U weet wat ek nodig het, en dat U in my behoeftes sal voorsien op die regte tyd. U tyd. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS