Bible Society of South Africa

Beloning vir die nederiges - 21 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

4Wie nederig is, dien die Here

en ontvang rykdom, eer en lewe.

SPREUKE 22:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het gister daaroor gepraat om nie eersugtig te wees nie, maar om nederig voor God te wees. In die wêreld waarin ons leef is dit vir baie mense ‘n uitgediende idee. Mense hunker na die beste en gee min om hoe dit verkry word. Ek lees onlangs dat in Suid-Afrika die uitvoerende hoofde van groot maatskappye nou 200 keer meer salaris per maand verdien as die gemiddelde salaris van hulle werkerskorps.

In Amerika is dit nog erger met uitvoerende hoofde wat 278 keer meer verdien as hulle werkers. Sport- en filmsterre verdien astronomiese bedrae geld. Baie politici wêreldwyd streef meesal na ‘n pos, nie om die mense van die land te dien nie, maar om soveel moontlik mag en geld te bekom. In kontras hiermee is daar miljoene wat elke dag honger is. Ook op gewone vlak is daar vrae te vra. Hoeveel meer verdien ek byvoorbeeld as my huis- of tuinwerker?

Wat beloof die Bybel as beloning vir diegene wat wel nog in nederige ontsag voor God eties wil leef? ‘n Mens kan amper nie jou oë glo as jy sien die eerste belofte is rykdom nie. Kan dit waar wees? Die Ou Testament praat oor wat hierdie soort rykdom inhou, maar vir ‘n volkome verstaan moet ons na die Nuwe Testament gaan kyk. In Efesiërs 1:7 sê Paulus: “In Hom het ons die bevryding deur sy bloed, die vergewing van ons oortredings uit die rykdom van sy genade.” Ons grootste rykdom is geleë in die genadige verlossing uit die sonde. Watter rykdom kan ooit groter wees as dit.

Om dit te weet is al genoeg beloning, maar die teks gaan verder. Daar word ook eer en lewe beloof. Weer eens moet ons gaan vra hoe sien die Nuwe Testament die saak. Wanneer die dissipels vir Jesus vra wie van hulle die belangrikste in die koninkryk van die hemele is dan laat Hy ‘n kind tussen hulle staan en sê: “Wie homself dus gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemele” (Matteus 18:1-5) Elkeen wat met nederigheid en ontsag voor God lewe, sal verhef word tot ‘n kind van God. Waar wil ‘n mens meer eer kry en beter lewe as om sy kind te wees?

Gebed: Baie dankie dat U ons ver bo ons verdienste beloon met die grootste rykdom en eer wat enigeen maar ooit kan verlang. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS