Bible Society of South Africa

Skepping en herskepping - 29 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

5Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.”

En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

DIE OPENBARING 21:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die Bybel begin met die skepping en eindig met die herskepping. In Genesis 1:31 lees ons: “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed ” Ongelukkig lees ons net ‘n entjie verder in Genesis 3 dat God die mensepaar die paradys moes verbied vanweë hulle keuse om nie na God se opdrag oor die boom van kennis te luister nie. Die pragtige skepping van God word nou ‘n gebroke skepping, maar hier in Openbaring beloof God die herstel van sy skepping.

In Genesis word beskryf hoe son, maan en sterre geskep is om lig te gee. In Openbaring is hierdie ligte oorbodig, want God se heerlikheid verlig die nuwe Jerusalem en die Lam is die lamp (Openbaring 21:23). In Genesis word ‘n verlore paradys met ‘n geslote hek en ‘n engel met vlammende swaard beskryf en in Openbaring die herwonne paradys waarvan Openbaring 21:25 sê dat die poorte dwarsdeur die dag oopstaan en dat daar geen nag meer is nie.

In Genesis lees ons die verskriklike verhaal van mense wat vir God wegkruip omdat hulle vir hom bang is. In Openbaring 21:3 lees ons hierdie wonderlike woorde: “Kyk die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volk wees, en God sal self by hulle wees as hulle God” Genesis vertel van die boom van die lewe wat vir die mens ontoeganklik is, terwyl Openbaring 22:14 sê dat die mense wie se sonde afgewas is nou toegang het tot die boom van die lewe.

Die kontras is baie duidelik. Die eerste skepping is gebroke en verniel deur die mens se hebsug en selfsug. Die nuwe skepping daarenteen is mooi en suiwer en heilig. In die nuwe skepping sal daar geen droefheid meer wees nie, geen leed, smart pyn of dood nie. Die ou dinge het inderdaad verbygegaan en God het alles nuut gemaak.

Moet ons nou wag vir die hemel om dit te kan geniet? Nee, vir elkeen wat glo is die dinge reeds beskikbaar, weliswaar nog nie volkome soos in die hemel nie. Tog is die paradys se hek reeds oopgemaak deur Jesus se dood en opstanding en het ons nou reeds toegang tot die boom van die lewe.

Gebed: Ons bely vandag ons skuld. Here ons is almal skuldig aan die gebroke paradys, maar baie dankie dat U ons die skuld vergewe en vir ons ‘n nuwe woonplek saam met U geskep het. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS