Bible Society of South Africa

Die nuwe hemel en die nuwe aarde - 30 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

Die nuwe hemel en die nuwe aarde

1Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien. Die eerste hemel en die eerste aarde het verdwyn, en die see het nie meer bestaan nie.

DIE OPENBARING 21:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die herskepping loop uit op die nuwe hemel en die nuwe aarde. Die kringloop is nou voltooi. Hy is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde.

Wat is die nuwe hemel en wat is die nuwe aarde? Hoe lyk dit daar en hoe sal dit wees om vir ewig deel daarvan te wees? Dit is eintlik vir ons heeltemal onmoontlik om selfs te probeer visualiseer hoe dit daar lyk en hoe dit sal wees om daar te bly. Daar is verhale van mense wat baie naby aan die dood omgedraai het en vertel dat hulle ‘n kykie in die hemel gehad het, maar dit kan natuurlik nooit bevestig word nie.

Ander probeer uit die visioen van Openbaring ‘n beeld opbou, maar die beskrywing wat ons hier kry is nie bedoel as ‘n letterlike beskrywing van hoe dit sal lyk nie. Verder moet ons ook nie dink dat hierdie aarde herskep sal word en dat mense tot in ewigheid hier sal woon nie. Dit is maar net ‘n planeet tussen waarskynlik ontelbaar baie ander planete en sal saam met ons ster, die son, ook mettertyd sterf. Nuwe aarde en nuwe hemel is ‘n begrip vir een en dieselfde ding en wys op ‘n heel ander dimensie; God se woonplek waarvan ons geen begrip het nie.

Alhoewel ons nie ‘n begrip daarvan kan vorm nie, skets die Bybel tog vir ons in sekere kenmerke waaruit ons sekere afleidings kan maak. Die belangrikste hiervan is dat God daar teenwoordig is. Eintlik behoort ons alle bespiegeling oor hoe dit sal wees en lyk net hier te stop. Dit is eintlik meer as genoeg om net te weet dat God daar is. Maar juis omdat God daar teenwoordig is, beskryf die Bybel dit as baie mooi en ‘n plek waar niemand honger sal wees nie, dit wil sê geen behoefte sal hê aan dit wat nou vir ons op aarde belangrik is nie. Die Bybel noem ook dat dit ons woonplek sal wees, dit wil sê ons sal daar tuis wees en verder dat ons verheerlikte liggame sal hê.

Die beste van alles is dat Christus daar vir my ‘n plek bespreek het.

Gebed: Hemelse Vader, baie dankie dat ek kan weet dat Jesus vooruit gegaan het om ook vir my plek te berei. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS