Bible Society of South Africa

Duisend jaar van vrede? - 28 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

Die Satan word vir duisend jaar vasgebind

1Toe het ek 'n engel uit die hemel uit sien kom met die sleutel van die onderaardse diepte en met 'n groot ketting in sy hand. 2Hy het die draak, die slang van ouds, wat die duiwel en die Satan is, gegryp en hom vir duisend jaar vasgebind.

DIE OPENBARING 20:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vanaf Openbaring 13 tot hier by hoofstuk 20 word ‘n aantal visioene beskryf wat handel oor die geskiedenis van die kerk en die stryd teen die Bose. Ons gaan dit nie in detail probeer bespreek nie, maar net enkele opmerkings daaroor maak. Ons moet steeds onthou dat die boek geskryf is as troos, veral ook vir die Christene wat swaar onder die Romeinse vervolging gely het. In hierdie hoofstukke word veral Rome beskou as die moderne Babilon, die plek van ballingskap. Babilon kan egter ook in wyer sin gesien word as ‘n verwysing na die wêreld wat die kerk van Jesus vyandiggesind is.

Daar is verder visioene van die dier uit die see, die dier uit die aarde, en ook die valse profeet. Ons moet nie aan drie wesens dink nie, maar dit alles sien as geheelbeeld van die Bose, vir die gelowiges van daardie tyd ‘n heenwysing na Rome.

Die hoofboodskap van hierdie hoofstukke is egter dat Jesus steeds die oorwinnaar is en die kerk en gelowiges sal saam met Hom oorwin. In Openbaring 19:11 verskyn Jesus as ‘n ruiter op ‘n wit perd, die teken van volkome oorwinning.

In ons teks vir vandag lyk dit asof daar na die groot oorwinning ‘n duisendjarige vrederyk op aarde tot stand kom. Mense wat glo dat alles in Openbaring ‘n letterlike betekenis het, verklaar dit dan as ‘n werklike koninkryk van vrede wat ‘n duisend jaar lank sal duur. Ander sien dit as die tydperk tussen die hemelvaart en die wederkoms. Daar is ook ‘n verklaring dat dit eintlik verwys na die martelare wat nie met ‘n lang gelukkige lewe beloon is nie, omdat hulle vroeg in diens van God gesterf het en nou op die wyse beloon sal word. Wat dit presies beteken, is dalk nie vir ons honderd persent duidelik nie, maar die mees aanvaarbare is dat dit die tyd tussen hemelvaart en wederkoms is. Wat wel vir my baie duidelik is, is dat nadat Jesus die dood en daarmee ook die Bose finaal deur die leë graf verslaan het, ek in sy vrede kan lewe.

Gebed: Ons loof U wat die oorwinning behaal het en bid dat U ons sal help om elke dag onbevrees die wêreld in te gaan om mense met die boodskap van vrede te bereik. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS