Skatte in die hemel - 19 November 2024
Deur Ewald Schmidt
Bybelteks(te)
MATTEUS 6
Skatte in die hemel
Hoe meet jy sukses in jou lewe? Die wêreld rondom ons meet mense se sukses dikwels in dit wat hulle besit. Die een bekende spreekwoord, toegeskryf aan Malcolm Forbes, sê die persoon wat die meeste speelgoed bymekaargemaak het wanneer hy sterf, wen …
Daar is deesdae so baie dinge om te besit. Eiendomme, voertuie, dinge wat ons graag versamel. Daar kom gedurig nuwe modelle uit wat beter as die ou model is wat ek besit. Die advertensiemaatskappye skep so baie behoeftes wat ‘n beter lewe belowe as jy net die nuutste produk besit. So kan ons in ‘n bose kringloop beland, waarin ons onsself gedurig met die mense rondom ons vergelyk. Is my huis, voertuig, speelgoed darem op dieselfde standaard as die ander mense by my werk s’n? Daardie spel van vergelyking met ander mense maak dat ons dinge koop wat ons nie nodig het nie. Ons word die slawe van die dinge wat ons besit. Ons Here Jesus waarsku teen so ‘n materialistiese lewensbeskouing, waarin ons lewe vir ons goeters. Jesus waarsku dat ons aardse skatte so vinnig van ons af weggeneem kan word. Ons waarde as mens lê nie in wat ons besit nie. Eendag gaan elkeen van ons hierdie aardse lewe verlaat, en niks saam met ons kan neem nie.
Daar is ‘n groot gesindheidsverandering nodig in die gang van ons lewe. As ons waarde nie in besittings lê nie, waar lê dit dan? Ons Here Jesus sê dit lê in ons verhoudingslewe. Ons is gemaak om die Here lief te hê, en Hom te dien. Wanneer ons sy dissipels is, wat Hom volg en dien, dan maak ons skatte in die hemel bymekaar. Die manier waarop ons Jesus se opdragte uitvoer en mekaar prakties liefhet, dit maak ‘n verskil met ewigheidswaarde.
Jesus gee vir ons ‘n baie belangrike koersaanwysing in Matteus 6:21. Waar ons skat is, sal ons hart ook wees. Ons spandeer ons lewe, ons tyd en geld, op dié dinge wat vir ons belangrik is. As die Here ons eerste liefde is, as ons ernstig oor skatte in die hemel is, dan sal dit gesien word in die manier hoe ons ons tyd inrig. Maak ek daagliks tyd om te groei in my verhouding met die Here? Maak ek tyd om my naaste prakties te dien? Of is ek maar vasgevang in die daaglikse stryd om net te oorleef, en al my skuld te diens? Leef ek om besittings wat ek nie eens nodig het nie, te probeer betaal? Jesus sê daar is ‘n beter manier van lewe wat ewige voordele inhou.
Gebed: Here, U is my eerste liefde. Leer my om my tyd, energie en geld so te spandeer dat ek skatte in die hemel bekom. Breek my los van die alledaagse sleur om skuld te maak, en dinge bymekaar te maak wat ek nie eens nodig het nie. Maak my vry om U voluit te dien! Amen