Bible Society of South Africa

Waarna kyk jy? - 20 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

Die lig van die liggaam

22“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. 23Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”

MATTEUS 6:22-23AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die Bergrede, Matteus 5-7, leer Jesus ons prakties wat dit beteken om dissipels van Hom te wees. In die hart van die woord “dissipel” is die woord “dissipline”. Dit beteken om met selfbeheersing die Here se pad te kies, ‘n lewenswyse begin waarin ek volgens die Here se beginsels lewe.

Ons almal is daagliks afhanklik van inligting om ons besluite te neem. Die meeste van ons is geseënd met die vermoë om te kan sien. Ons het ook die vermoë om te kan kies waarna ons kyk. Die manier waarop ons kyk is maar ‘n ander manier van om te sê: die manier waarop ons dink, bepaal ons hele lewe.

Jesus sê: as ons kies om die goeie in die lewe raak te sien, dan sal dit ons hele liggaam verlig. Paulus sou hieroor in Filippense 4:8 sê: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.” Ons kan kies om die opbouende en goeie in die lewe raak te sien. Ons fokus op die handewerk van God in ons lewe, en in die wêreld rondom ons. Ons lees die Woord met ons oë, ons kies om opbouende boeke te lees. Ons kies om met sagte oë na die mense rondom ons te kyk. ‘n Gesonde kyk na die lewe bevorder ‘n gelukkige menswees.

Maar die waarskuwing is ook baie duidelik: pasop vir die negatiewe manier van kyk in die lewe. ‘n Oog wat sleg is, is ‘n oog wat bly soek vir alles wat verkeerd is. Dis ‘n oog wat kyk vir geleenthede om kwaad te doen. Dis ‘n oog wat onreg raaksien, en niks daaraan doen nie. Dis ‘n oog wat met wellus kyk na iemand wat die Here nie vir hom of haar gegee het nie. Jesus sê so ‘n oog bring duisternis in die liggaam in. Dit getuig van ‘n lewe waarin die lig van Jesus nog nie tuis gekom het nie. Jesus se uitroep in Matteus 6:23a getuig van die wanhoop van ‘n verlore mens- hoe donker moet dit nie wees as die lig in jou donker is nie.

Daarom, as dissipels van Jesus, het ons ‘n keuse. Ons kan voortgaan om na donker dinge te kyk, maar dit maak ons harte en gees donker. Of ons kan kies om sy lig in elke dag, in elke situasie te soek. In Jesus se lig is die ware lewe, sê Johannes 1:9.

Gebed: Here Jesus, U is die lig wat in die donker skyn. U het ook my duisternis laat verdwyn. Help my om met nuwe oë na die wêreld rondom my te kyk, en die mooi in elke dag raak te sien. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS