Bible Society of South Africa

Die vergete geestelike dissipline van vas - 18 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

As julle vas

16“As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. 17Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig 18sodat niemand kan sien dat jy vas nie, behalwe jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

MATTEUS 6:16-18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons almal is bekend met die geestelike dissipline om tyd in God se Woord te spandeer. Dit is waarom jy hierdie dagstukkie lees. Ons het hierdie maand ook stilgestaan by die geestelike dissipline van gebed, soos ons Here Jesus ons leer bid het in die Onse Vader-gebed. Maar daar is een dissipline wat veral in die Gereformeerde tradisie vergete geraak het. Dit is die dissipline van om te vas.

Om te vas, beteken om vir ‘n sekere tydperk jou te weerhou van sekere dinge wat jy normaalweg mee besig sou wees. Die bekendste vorm daarvan is om vir ‘n sekere tydperk nie te eet nie. Die tyd wat jy sou spandeer om kos voor te berei, gebruik jy eerder in jou binnekamer in gebed. Deur te vas, breek jy uit die alledaagse roetine. Ja, hongerpyne begin jou spoedig tref. In die honger kom daar ‘n nuwe waardering vir al die kere wat die Here voedsel aan jou voorsien. ‘n Nuwe stuk dankbaarheid en afhanklikheid van die Here ontwikkel. Jy is meer gefokus op die teenwoordigheid van die Here. En dis so lekker as jy klaarmaak daarmee!

Vas hoef nie net te wees om jou te weerhou van voedsel nie. Jy kan ook vas van sekere roetine gewoontes – kies om vir ‘n ruk nie televisie te kyk nie, en meer tyd saam met die Here te spandeer. Vas van jou selfoon en rekenaar – maak tyd om los te breek van die houvas van die elektronika.

Jesus sê om te vas is nie om in die openbaar ‘n groot ophef daarvan te maak nie. Die Fariseërs het dit gedoen, deur in die openbaar hulle gesigte te trek en te wys hoe hulle ly. Jesus sê hulle het hulle beloning klaar weg.

Vas is nie ‘n manier om God se arm te draai om te verseker dat dit waarvoor jy bid, sal gebeur nie. Dit verhoog nie die krag van jou gebede nie. Maar dit breek die houvas van die alledaagse, en dit maak dat jy meer bewus raak van die teenwoordigheid van God. Jy kry geleentheid om jou prioriteite in oënskou te neem. Jy word diep bewus van die seëninge wat normaalweg deel van jou lewe is. Die medici sê al hoe meer dat daar groot gesondheidsvoordele daarin is om soms te vas. Wanneer jy in stilte vas, om jou behoefte aan die Here se teenwoordigheid in jou lewe te erken, dan sal Hy jou beloon, jy sal vind waarna jy op soek is.

Gebed: Here, U is meer werd as die lewe. Wanneer ek vas, wil ek graag daarmee vir ‘n rukkie breek van die alledaagse, en meer fokus op u teenwoordigheid in my lewe. Ek wil toeneem in afhanklikheid en dankbaarheid. Mag U al meer word, en ek al minder. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS