Bible Society of South Africa

Selfs die sterre kondig sy geboorte aan - 10 Desember 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

MATTEUS 2

Besoek uit die ooste

1Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

MATTEUS 2:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Sterre het my nog altyd gefassineer, tot so ‘n mate dat ek vir my ‘n teleskoop gekoop het. Die lekkerste is as ons na my swaer se plaas in Namibië gaan waar daar geen lig of lugbesoedeling is om my sterrekykery te benadeel nie. Hoe wonderlik was dit nie om die eerste keer die planeet Saturnus met sy ringe te kon sien nie.

Lank voor Christus se geboorte het mense al oor die sterre gewonder. Griekse filosowe en wetenskaplikes in Persië en ander Oosterse lande het die sterre bestudeer en allerlei afleidings gemaak oor die stand van die hemelliggame. Dit was basies ‘n mengsel van astrologie en astronomie. So verskyn daar op ‘n stadium ‘n nuwe ster aan die hemel en ‘n groep wyse manne vertrek op ‘n lang reis. Hulle het in die verskyning van die ster die geboorte van ‘n koning in Israel gesien. Daar is al baie bespiegel oor presies wat die ster was wat hulle gesien het. Ons weet nie en dit maak eintlik nie saak nie.

Wat belangrik is, is dat hierdie sterrekenners reeds voor Jesus se geboorte ‘n “boodskap” gekry het van die geboorte van ‘n koning. Wat vir my in hierdie verhaal, wat net deur Matteus opgeteken is, opvallend is, is hoe verskillend Herodes en die wyse manne na die gebeurtenis kyk. Vir Herodes is hierdie koningskind wat gebore is ‘n onmiddellike bedreiging. Vir die sterrekenners wat nie-Jode, en dus ongelowiges was, is hy “koning van die Jode”.

Nogal vreemd. Mens sou dink dat Herodes baie opgewonde sou wees dat hierdie geleerde manne die koms van ‘n nuwe koning in die sterre kon sien. Alhoewel Herodes nie van geboorte ‘n Jood was nie, is hy as Jood grootgemaak en die Jode het juis so gehoop op die koms van die koning uit die huis van Dawid. “Hy is hier” is die wyse manne se boodskap. “‘Maak hom so gou moontlik dood” is Herodes se reaksie, want dit kon dalk sy koningskap bedreig het.

Min het Herodes geweet dat dit wat hy wou doen, aan die kruis voltrek sou word. Jesus sou sterf, ja, moes sterf, nie om die volk Israel van die Romeine te verlos nie, maar om vir elkeen wat glo van die dood te verlos. Die ster het inderdaad nie gewys op die geboorte van ‘n aardse koning van die Jode nie, maar die geboorte van die Koning wat sou sterf en weer opstaan om die dood self te oorwin.

Gebed: Ons loof en prys U dat U as koning gekom het, nie van een volk nie, maar om vir altyd koning van die wêreld te wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS