Bible Society of South Africa

Kersfees is koninkrykstyd - 9 Desember 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

DANIËL 2

44In die tyd van daardie konings sal die God van die hemel 'n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koninkryk sal nie deur 'n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir altyd bestaan.

DANIËL 2:44AFR83Maak oop in die Bybelleser

LUKAS 1

33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

Van die bekendste dele in die Ou Testament is seker die droom wat Nebukadneser gehad het oor die groot beeld wat uit goud, silwer, koper, yster en klei bestaan het. Nebukadneser wou weet wat hierdie ontstellende droom beteken. God openbaar in ‘n nagtelike visioen die uitleg van die droom aan Daniel en hy maak dit aan Nebukadneser bekend. Die droom verwys na vier opeenvolgende koninkryke. As ‘n mens die geskiedenis navors, wys dit waarskynlik na die Babiloniese, Persiese, Macedonies-Griekse en Romeinse koninkryke. Maar daar is nog ‘n koninkryk ter sprake, die belangrikste een van almal, die een wat in ewigheid nie vernietig sal word nie.

As ons nou hierdie wêreldse koninkryke vergelyk met die koninkryk wat deur Jesus se koms tot stand gebring is, vind ons die volgende:

Eerstens is dit koninkryke met wêreldse staatshoofde wat meesal hard en ongenaakbaar was soos wat ons in die geskiedenis sien. Hulle word gekenmerk deur oorlog en geweld en bloedvergieting. Hierteenoor sê die engele aan die skaapwagters dat God se koninkryk een sal wees wat deur vrede gekenmerk word en sal geld vir elke mens in wie God ‘n welbehae het. Dit is ek en jy.

Die tweede kenmerk van die vier koninkryke is dat hulle tydelik en verganklik is. Dit is trouens waar van alle aardse koninkryke en regerings. Hierteenoor is God se koninkryk een wat nie vernietig sal word nie, of soos die engel vir Maria gesê het, daar sal geen einde aan kom nie. Dit is daarom onaantasbaar.

Wat beteken dit vir ons wat eersdaags weer die koms van die Messias vier? Die belangrikste is dat sy koninkryk nie wêrelds is nie, maar op geestelike vlak in die wêreld besig is. Sy koninkryk bring nie elke oorlog tot ‘n einde nie, maar is bedoel om ware vrede in die harte en lewens van gelowiges te bring en vir ons ‘n uitsig op die ewige lewe te gee.

Gebed: Baie dankie dat u koninkryk van vrede ook vir my bedoel is. Gebruik my om iets van hierdie vrede in die omgewing waar ek werk en lewe uit te dra. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS