Lig vir die wêreld -11 Desember 2024
Deur Ben Fourie
Bybelteks(te)
JOHANNES 1
Deesdae sien ‘n mens nie meer so baie liggies oral in die strate tydens Kersfees nie. Ek onthou nog hoe ongelooflik dit vir my as kind was toe ons vir die eerste keer Kaapstad se Kersliggies gaan kyk het. ‘n Mens kon toe nog in absolute veiligheid in die aand deur Kaapstad se strate ronddwaal en jou oopmond verwonder aan die kleurespel. Vir ‘n plattelandse kind uit die Noordwes-Kaap was die liggie kykery amper lekkerder as om Kersoggend jou kussingsloop vol geskenke oop te maak.
Oral in die Bybel kom die gedagte van lig na vore. Die heel eerste skeppingsdaad van God is om lig te skep. Die psalmdigter van Psalm 36 sê in vers 10 “in u lig sien ons lig” en in Psalm 119:105 word sy woord as ‘n lig vir ons lewenspad gesien. Jesaja roep die volk op om in die Here se lig te leef (Jesaja 2:5) en beloof ook aan hulle “… die Here sal vir jou ‘n ewige lig wees” (Jesaja 60:19-20). Ook in die Nuwe Testament is daar weinig boeke waar daar nie iets oor lig gesê word nie.
By Jesus se geboorte het lig ook ‘n groot rol gespeel. Op die velde van Bethlehem het die skaapwagters gesien hoe die hemelse glans van die Here rondom hulle skyn en die wyse manne is deur die lig van ‘n ster na die Kind in die krip toe gelei. Die Messias word sonder trompetgeskal en basuingeklank gebore, maar veel belangriker as dit; Hy word as lig vir die wêreld gebore.
Maar juis omdat God lig is en alles wat Hy doen in die helder lig staan, is daar by Hom geen plek vir duisternis nie. Johannes skryf in sy eerste brief baie duidelik: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” (1 Johannes 1:5). Daarom verg dit ook van my ‘n keuse – óf God se lig óf die wêreld se duisternis. Ons kan nie in ‘n soort skemerwêreld tussen die twee leef nie. Kersfees is inderdaad ‘n vreugdefees vol lig, want die Een wat die duisternis van die graf oorwin het, is vir ons elkeen gebore. Die keuse bly egter myne of ek in sy lig gaan leef of nie.
Gebed: My gebed is dat U my ‘n lig sal maak wat helder sal skyn waar ek ook mag gaan. Vergewe my as ek deur my optrede dalk ‘n stuk donkerte in ander se lewens bring. Amen