Bible Society of South Africa

Seisoene verander, prys die Here - 30 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

Elke ding het sy vaste tyd

1Elke ding het sy vaste tyd,

elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

PREDIKER 3:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Baie mense sê dat die afgelope winter in die Kaap baie erg was – dit het vroeg begin en langer as gewoonlik aangehou. Beurtkrag het definitief nie gehelp om dinge te vergemaklik nie. Daarenteen het vriende en familie oorsee laat weet dat hulle buitengewone warm weer ondervind en ‘n ander soort ongemak beleef. Almal het egter dieselfde wens uitgespreek –hulle kon nie wag vir die nuwe seisoen om aan te breek nie.

Seisoene is egter ‘n vaste verskynsel. In die lewensiklus van plante is daar ‘n tyd vir die saadjies om te ontkiem, vir die plant om wortel te skiet, stingels om uit te spruit en, afhangende van die tipe plant, hoër te groei, ens. Bome, byvoorbeeld, dra uiteindelik vrugte wat gepluk kan word. Al die seisoene is nodig vir voedsel: dus uiters noodsaaklik om lewe op die planeet te ondersteun.

Minder sigbaar is die seisoene wat ons geestelik beleef en ons verstaan ook nie altyd waarom dit verander nie. Soms het ons net ‘n sterk gevoel dat ‘n ampstermyn, ‘n vriendskap of ‘n fase verby is, maar ons verstaan nie noodwendig hoekom nie.

In die lente van ons geloof blyk dinge maklik te wees, selfs opwindend. Soms beleef ons egter lang tye vol probleme: miskien is jy midde ‘n ernstige siekte, en wat jou geloof betref, voel dit asof jy in ‘n soort winter is – geïsoleer deur ‘n donker koue wat jou verstand verdoof.

In my familie- en vriendekring is daar tans ‘n aantal wat redelik ernstige gesondheidsprobleme ondervind. Vir van hulle sal die lewe nooit weer na “normaal” terugkeer nie. Een van my dierbare vriendinne het pas met haar gesin oorsee verhuis. Hierdie seisoen in haar lewe bied ‘n ander tipe uitdaging.

Vir die Christen bied elke situasie nie net ‘n geleentheid om persoonlik in geloof en afhanklikheid van die Here te groei nie, maar diegene naby hulle word ook geroep om op nuwe wyses te dien.

Dit is wonderlik hoe God die verskillende seisoene in ons lewens gebruik om ons en diegene naby ons nuwe geloofslesse te leer. In Galasiërs 6:2,5,9-10 vind ons ‘n aantal juweeltjies om ons te help om deur die jare heen die seisoene van ons lewens te navigeer: “Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus … want elkeen moet sy eie las dra …Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes. Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof.”

Gebed: Ons prys die Here dat ons deur elke seisoen van ons lewenspad, met medegelowiges aan ons sy, kan groei en vir die woord van God wat ons elke tree van die pad lei. Ons dank U daarvoor. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS