Bible Society of South Africa

Sagmoedigheid - 12 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

1'n Sagte antwoord laat woede bedaar;

'n krenkende woord laat woede ontvlam.

SPREUKE 15:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie spreuk sluit tot ‘n mate aan by die van gister en lyk asof dit dieselfde strekking het, maar waar dit gister meer in die algemeen gegaan het, is vandag gerig op ‘n meer persoonlike vlak. Die gedagte van ‘n wyse mens teenoor ‘n dwase mens is dikwels aanwesig in selfs die spreuke waar dit nie pertinent genoem word nie. Hier kom dit te voorskyn in die wyse persoon wat in ‘n konfrontasie, argument of tydens ‘n debat ‘n sagte antwoord gee teenoor die een wat in sy dwaasheid ‘n krenkende woord laat hoor.

Dit is altyd vir my lekker om verskillende vertalings met mekaar te vergelyk en hier is dit baie interessant dat die 1933/1953-, die 1983- en die 2020-vertaling presies dieselfde woorde gebruik, naamlik sagte antwoord en krenkende woord. Die Bybel vir almal praat van ‘n mooi antwoord en een wat mense seermaak.

As ek so ‘n bietjie terugdink oor my lewe kan ek maar net getuig van hoe waar die spreuk is. So dikwels het ek in vergaderings my standpunt aggressief gestel en die argument verloor. Dit was nie noodwendig omdat myne ‘n swak argument was nie, maar omdat diegene wat saam met my aan die debat deelgeneem het nie van my “krenkende” styl gehou het nie.

Die woord beteken in sy vroegste vorm iets soos “om te beskadig.” Verder nog om te grief, te beledig, te verneder. Mense hou nie daarvan om deur wat ek sê beledig of verneder te voel nie. Kom ons dink hieraan as ons met ons lewensmaats, ons kinders, ons kollegas, ons werksmense of ons medegelowiges verskil oor ‘n saak.

Ongelukkig is dit so dat ons oor geloofsake waaroor ons van mekaar verskil, dikwels ook krenkend optree. Sagte antwoorde soms, maar heel dikwels antwoorde wat seermaak. Natuurlik het ons soms uiteenlopende sieninge oor hoe om byvoorbeeld die Bybel te interpreteer, maar hoe ons dit hanteer en met mekaar praat, is wat werklik saak maak. Die sagte antwoord sal altyd beter wees as die krenkende woord.

Gebed: Ons bely vandag voor U dat ons dikwels hard met ons medemens, ons kind, ons geliefde werk. Help ons asseblief om te leer hoe om saggies met ander te werk. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS