Bible Society of South Africa

Hoe hoor ander my praat? - 11 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

18Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees;

wyse mense bring genesing met wat hulle sê.

SPREUKE 12:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hierdie spreuk het my nogal onkant gevang. Ons weet almal dat skinderpraatjies groot skade kan doen en mense baie seer kan maak, maar soos die skrywer van Spreuke dit hier stel, kry ‘n mens skielik ‘n beter perspektief op hoeveel skade onverskillige woorde werklik kan aanrig. Hy noem dit dolksteke. ‘n Dolk is nie maar net ‘n gewone mes wat bedoel is om in die kombuis mee te werk nie, ‘n dolk is spesifiek ontwerp as wapen om mee dood te maak of ernstig te beseer.

Volgens Spreuke is skinderpraatjies dus nie sommer iets nietigs nie. Dit kan dodelik wees. Die storietjie wat ek dalk onnadenkend oorvertel, kan in iemand se lewe dalk soos ‘n dolksteek wees. ‘n Skinderstorie het ongelukkig ook die manier om soos wat dit verder loop, stertjies by te kry wat die pyn van die een oor wie die storie vertel word, net nog erger maak.

Daar is egter net so ‘n belangrike positiewe uitspraak in die spreuk. Dit val my telkens op hoe ‘n spreuk van my twee dinge kan verwag. Dit is nie genoeg dat ek my van onverskillige woorde moet weerhou nie, ek moet aan die ander kant ook bydra tot mense se “gesondheid”, hier veral in geestelike sin gesien. Soos ‘n dolk steekwonde veroorsaak, so moet my tong help om genesing te bring. Met tong word hier natuurlik bedoel die dinge wat ek sê. Dit is vir my pragtige beeldspraak. Dit wat ek sê en hoe ek dit sê, kan vir ‘n ander persoon soos koel genesende druppels op ‘n seerplek wees.

Ek vra myself af of ek genoeg daarop ingestel is om te sien waar mense genesende woorde nodig het. Ek hoef nie besonder welsprekend te wees of briljante insigte oor te dra nie. Seerplekke het nie altyd die duurste medisyne nodig nie. Ek sien dit so dikwels as een van my kleindogters geval het en met ‘n stukkende plek by oupa aankom. Net ‘n bietjie outydse Germolene salf, ‘n pleistertjie, ‘n bietjie simpatie en ‘n drukkie is meesal genoeg om die trane te laat opdroog. Die hoeveel of kwaliteit van ‘n geestelike geneesmiddel is ook nie so belangrik nie, wat werklik saak maak is met hoeveel liefde ons dit uitdeel aan die wat iewers deur die lewe seergemaak is.

Gebed: Ons loof U dat U ons seerplekke met liefde behandel. Help ons om hulle rondom ons raak te sien wat iewers seergekry het. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS