Bible Society of South Africa

God se pad - 13 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

9'n Mens beplan sy pad,

maar die Here bepaal hoe hy loop.

SPREUKE 16:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek en my vrou is baie lief vir reis. Dit beteken doodgewoon dat ons graag rondry, maak nie saak waarheen nie en maak ook nie saak of ons al meer as een keer na dieselfde bestemming gegaan het nie. Ons is langpadmense. Niks is vir ons so lekker soos om iewers heen die pad te vat nie. Maak nie saak of dit sommer net na die volgende dorp is en of dit Namibië toe is nie, ons ry graag en ons beplan graag ‘n interessante roete.

Die kortste pad na ‘n plek is nie vir ons noodwendig die eerste keuse nie. Soms werk dit egter nie heeltemal uit soos ons gehoop en beplan het nie. Ons het al baie laat by sommige bestemmings uitgekom omdat ons iewers op die grondpad verdwaal het. Selfs die GPS het ons al in die steek gelaat en baie verkeerd laat ry op die agterpaaie.

So beplan ons almal ook ons lewenspad. Die woord “hart” soos hier gebruik, beteken die mens in sy hele wese, siel en verstand. Ons beplan ons beroep, ons woonplek, ons finansies, ons gesin. Alles word tot in die fynste besonderhede beplan en dan loop dinge dikwels steeds ernstig skeef, want die GPS waarmee ons in die lewe werk, is immers mensgemaak. Dit is ons eie beplanning, ons eie besluite en daarom feilbaar.

Oral in Spreuke kom die gedagte voor dat al ons beplanning op niks uitloop as dit nie in lyn is met wat God vir ons beplan nie; “die HERE bepaal ons voetstappe”. Baie mense ervaar die gedagte baie negatief. Die mens wil darem maar graag volle beheer oor elke aspek van sy lewe hê. Elkeen wat daarenteen met ware vertroue sy planne maak in die teenwoordigheid van God, kan verseker weet dat sy voete altyd op die pad sal bly en die finale bestemming bereik sal word.

Gebed: Ons pleit vandag dat U ons sal verlos van die eie ek wat alles in die lewe self wil beplan. Maak ons nederig voor U en baie dankie dat U ons voetstappe bepaal. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS