Bible Society of South Africa

Praktiese liefde onder mekaar - 27 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? 47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

MATTEUS 5:46-47AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons sê mos graag: die een hand was die ander … Dit wat jy aan my doen, doen ek gelykmatig aan jou. As jy vir my goed is, dan doen ek ook goed terug aan jou. As jy my leed aandoen, kan jy moeilikheid verwag van my kant af. Dit is maar die normale manier van menswees. Dis hoe dinge oral oor die wêreld gedoen word.

Ons Here Jesus sê: dit hoef nie so te wees nie. Dit kan soveel beter gaan in hierdie ou wêreld. Hy konfronteer ons met ons neiging om net die mense lief te hê wat ons eerste liefhet. Dink ‘n bietjie na oor hierdie tendens in jou eie lewe. Ons almal het familie en vriende vir wie ons baie ver uit ons pad sal gaan om te help. Ons vra nie eens vrae of bereken die koste nie, as daardie hartsmense ons hulp nodig het, kan hulle op ons staatmaak. Dan is daar ‘n verdere groep mense vir wie ons ken. As dit nie te ongerieflik is nie, dan sal ons ook in hulle lewens ‘n verskil maak waar ons kan. Maar ons elkeen het ons grenslyn êrens getrek – vir die mense wat ons nie ken nie, of nie van hou nie, sal ons nie sommer help nie.

Dit is juis op hierdie terrein wat daar geleentheid tot so ‘n mooi getuienis kan wees. Jesus leer ons om nuut te dink, en so bietjie te waag om nog meer vir ons naaste te doen. As dissipels van Jesus begin ons met God se oë na die mense rondom ons en hulle nood te kyk. Die uitdaging vir ‘n kind van die Here is om te help waar jy in staat is om te kan help. Die persoon wat jou dalk nie eens ken nie, en by jou ‘n daad van liefde ontvang, gaan wonder wat jou gemotiveer het om uit te reik. Dis baie vreemd om ‘n blyk van liefde te ontvang van ‘n vreemdeling – wat laat daardie persoon so optree? In die proses kom ‘n geleentheid tot getuienis van die goedheid van die Here.

Jesus begin op die mees basiese vlak van liefdesbetoon: om net iemand anders raak te sien, en hulle bestaan te erken. Groot woorde: groet die mense rondom jou! Sien hulle raak, erken hulle bestaan. Die oomblik wanneer ons iemand groet, erken ons hulle menswaardigheid. ‘n Groet kan dalk net tot ‘n gesprek lei, en ‘n gesprek gee ‘n geleentheid om van God se goedheid te getuig.

Gebed: Here, elke mens waardeer dit wanneer iemand anders hulle raaksien, en groet. Leer my om ook bewus te wees van die mense wat elke dag rondom my verbyloop op die lewenspad. Leer my om met ‘n hart vol liefde hulle raak te sien, en selfs met my groet iets van u liefde oor te dra. Leer my om ook my gesindheid teenoor ander te verander, en te help waar ek ook al in staat is om ‘n verskil te maak. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS