Bible Society of South Africa

Ons strewe na volmaaktheid - 28 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

48“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

MATTEUS 5:48AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons kan hierdie vers so maklik verkeerd verstaan. Ons weet mos dat geen mens volmaak is, of volmaaktheid in hierdie lewe sal bereik nie. Elkeen van ons maak foute, en ons kan nie onsself red deur ‘n klomp goeie dinge te probeer doen nie. Ontspan! Die Here weet dit! Psalm 103:14 sê “Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is.”

Die Here is besig met ‘n herstelproses in sy kind se lewe. Ons is in die begin gemaak na God se beeld, en sy verteenwoordiger in die Skepping (Genesis 1:26). Die Here het ons baie goed gemaak (Genesis 1:31). Ons weet dat die beeld van God met die sondeval in ons gebreek het. Ons is nie meer soos wat die Here beplan het nie.

Tog het hierdie reis begin met die besef dat ons afhanklik van God is (Matteus 5:3). Ons het ons lewens aan die Here oorgegee, ons het Hom vertrou om ons te red, en ons te lei op sy pad. Die Here is nou besig om ons te herstel, terug na daardie beeld van Hom waarvoor ons oorspronklik gemaak is. In 2 Korintiërs 3:18(b) lees ons van hierdie herstelproses waarmee die Heilige Gees in elke gelowige se lewe besig is: “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.”

Daar is hierdie groeiproses in ons lewens, en vandag se teksvers vertel vir ons wat die doel daarvan is. Ons Vader in die hemel is volmaak, en ons groei in ons geloof om meer en meer na volmaaktheid te strewe. Die vers is in die bevelsvorm geskryf: ons het ook ‘n verantwoordelikheid in hierdie proses. Ons moet oorgee aan die werk van die Heilige Gees in ons lewe. Hy wys vir ons deur die Woord wat verkeerd in ons lewe is. Hy gee insig, en krag om te verander. Ons is gehoorsaam, ons verander van koers waar nodig om meer en meer die Here se pad te loop. Dit bly ‘n lewenslange proses.

Daarom, om hierdie reeks af te sluit, wil ek graag dankie sê dat jy hierdie maand saam gelees het in die Woord van die Here. Mag Hy jou lei deur sy Gees om ook te gaan doen wat Hy jou geleer het. Mag sy goedheid en genade in oorvloed by jou wees, mag Hy jou al dieper lei in die geheimenisse van God.

Gebed: Here, U is volmaak. U het my op die naam geroep om aan U te behoort, ek is u eiendom. Daarom wil ek vandag voor U buig, en vra: hou asseblief aan om in my lewe te werk. Herstel my lewe, vorm my om al meer en meer soos Jesus te lyk. Dankie dat U getrou is, en dat ek op U kan vertrou. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS