Bible Society of South Africa

Liefde vir alle mense - 26 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

Liefde vir die vyand

43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ 44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.

MATTEUS 5:43-45AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons mense is van nature geneig om onsself in kampe te deel, en onder ons baniere te veg vir ons saak. Dié mense wat soos ons dink, sien ons as ons vriende, en dié wat anders as ons dink, is ons vyande. Dit gebeur vanaf magtige nasies wat teen mekaar te staan kom, tot by iets eenvoudigs soos die sportspanne wat ons ondersteun.

Jesus begin weer met die aanhaling wat so standaard praktyk in die wêreld is – van die vroegste tye af is ons lief vir ons naaste, dié in ons kamp. Wanneer Jesus aanhaal dat mense sê ons ons vyand moet haat, kom dit nie uit die Ou Testament nie. Dit was deel van die Fariseërs en skrifgeleerdes van die tyd se beskouings. Hulle het die mense geleer dat volksgenote jou naaste is, en hulle moet jy liefhê. Maar enige persoon wat nie deel van die volk was nie, is as vyande beskou, en hulle het selfs die reg behou om vreemdelinge dan te haat. Daar was maar baie bitterheid en ou geskiedenis tussen volke in die Midde-Ooste, wat vandag steeds voortduur.

Jesus kom ontneem ons die geleentheid om ander mense te haat. Dis een van die moeilike opdragte om dissipel te kan wees. Van nature is daar mense wat anders as ons dink. Ander haat ons omdat ons anders as hulle is. Hulle kan ons beledig, hulle kan ons vloek en selfs fisies vervolg. Ek glo elkeen van ons het al in ons lewe hiermee te doen gehad, en kan getuig van seerkry aan die hand van ander mense. Daar is mense wat anders as ons is, en in die proses ervaar ons hulle as bedreigend.

Jesus leer ons om met nuwe oë na mense te kyk. Hy herinner ons dat ons Vader in die hemel ook vir dié wat anders as ons is, liefhet. Hy laat sy son opkom oor al die verskillende kampe en baniere van die wêreld. Sy reën val op goeie en slegte mense neer. Sy liefde en genade is bedoel om elke mens op aarde aan te raak. Wanneer ons dan na mense begin kyk soos wat God hulle sien, word ons opgeroep om ons harte te verander. Wanneer ons die haat laat staan, word die vakuum gevul met liefde in ons harte vir alle mense. Hierdie hartsverandering, ‘n hart vol liefde vir jou medemens, dra die getuienis uit dat jy ‘n kind van God is. Sy liefde het in jou lewe tuisgekom.

Gebed: Here, dankie dat U my liefhet, en my in liefde geroep het om u kind te wees. Wanneer ek as dissipel in Jesus se voetspore volg, roep U my om daardie liefde met die mense rondom my te deel. Sommige mense maak dit vir my moeilik. Gee my die genade en die krag om u liefde te deel met almal wat my pad kruis. Gee my selfs die krag om mense wat my haat, en my wil seermaak, te seën met u liefde. Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS