Bible Society of South Africa

Opgevaar na die hemel (2) - 20 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

12Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van God gaan sit.

HEBREËRS 10:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus is nie net ons Pleitbesorger by die Vader nie, Hy is ook die Een wat ons stryd hier op aarde volkome verstaan. In Hebreërs word dit duidelik uitgespel dat Hy al die versoekings wat ons beleef ook beleef het want Hy was volkome mens. Lees Hebreërs 4:15. Ons kan dus met vrymoedigheid vir Jesus van al ons probleme vertel en weet dat Hy luister en ons kan help, solank as wat ons Hom vertrou. Is dit nie gerusstellend nie?

Nog ‘n taak waarmee Jesus besig is, is om sy kerk hier op aarde bymekaar te hou. “Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.” (Efesiërs 4:15b-16) Alles wat ons as lidmate bereik, is net moontlik in Hom en sy krag wat deur ons werk. Of jy nou ‘n lidmaat van ‘n megakerk of ‘n klein gemeentetjie is, maak nie saak nie. Nie een gelowige is vir Jesua belangriker as die ander nie, want die kerk behoort aan Hom. Hy verdien al die lof en eer.

Die meeste van ons ken die gedeelte in Johannes 14 waar Jesus sê dat daar in die huis van sy Vader baie woonplek is en dat Hy gaan om vir ons plek te berei. Die idee dat Jesus besig is met “bouwerk” daar in die hemel is bo my denke, maar ek is net so dankbaar dat ek weet my plek is bespreek. Ek hoop jy het ook hierdie sekerheid in jou hart.

Is dit nie wonderlik om te weet dat Jesus nie weggegaan en van ons vergeet het nie. Hy is steeds honderd persent by ons betrokke. Dit help my om met volle vertroue te kan sê: “Ek glo in Jesus Christus wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader.” Ek hoop dat dit ook vir jou moontlik is.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U nie van ons vergeet nie, maar steeds in ons lewens werk. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS