Bible Society of South Africa

Opgevaar na die hemel - 19 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

19Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit.

MARKUS 16:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wat is nou lekkerder as om na ‘n dag se harde werk by die huis te kom en diep weg te sak in jou gunsteling leunstoel? Af te skakel en net te rus.

Die Bybel vertel ons dat Jesus na alles wat hy hier op aarde moes deurmaak, in die hemel opgeneem is waar Hy aan die regterhand van God gaan sit het. Om te rus? Nee, om voort te gaan met sy taak. Hy is steeds ter wille van ons 24/7 besig,

Jesus verdedig steeds sy kinders by die Vader. In 1 Johannes 2:1 lees ons dat as ons sondig, het ons ‘n voorspraak by die Vader. Wanneer ‘n mens in die moeilikheid is met die gereg wil jy graag die beste verdediging moontlik hê. In Jesus Christus het ons so Iemand wat ons voor die Vader verdedig.

Hy is ook die Een wat die Heilige Gees stuur. “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; … Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort.” (Handelinge 2:32-33a) Die Bybel sê dat almal wat in Jesus Christus glo, die Heilige Gees ontvang. Jesus ken ons swakhede. Gelowiges kan niks uit eie krag doen nie. Daarom stuur Hy sy Gees om in ons te woon.

Nie net ontvang ons sy Gees nie, maar Hy gee ook aan ons die vermoë en gawes wat ons benodig om hier op aarde in sy diens te gebruik. “Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het.” (Efesiërs 4:7)

Satan kla ons dag en nag voor God aan (Openbaring 12:10) en probeer om ons te oortuig dat ons steeds skuldig is. Maar ons het ‘n Pleitbesorger. “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” (Romeine 8:33-34)

Jesus doen ook voorspraak vir soekendes en Hy bring hulle na God. Jesus is ons Hoëpriester en “daarom kan Hy ook dié wat deur Hom na God gaan, eens en vir altyd verlos: Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree.” (Hebreërs 7:25)

Gebed: Here Jesus, dankie dat U steeds vir ons by die Vader intree. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS