Bible Society of South Africa

Ontsag vir God - 4 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

7Kennis begin met die dien van die Here;

dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag.

Daar is ‘n verhaal wat my nog altyd aangegryp het juis omdat dit so hartseer is. Dit is die verhaal van ‘n ou non wat na ‘n leeftyd wat volledig daaraan gewy was om God te dien, op haar sterfbed was. Sy was al baie oud en volgens die dokter moes sy al lankal gesterf het, maar sy het verbete aan die lewe vasgeklou.

Uiteindelik het haar priester gevra wat haar dan so aan die lewe laat vasklou. Haar woorde was : “Ek is so bang vir God”. ‘n Leeftyd in sy diens geoffer, maar so bang om God van aangesig tot aangesig te ontmoet omdat sy nooit die verskil tussen ontsag vir God en om bang te wees vir God verstaan het nie.

As kind was ek ook bang vir God, want dit is wat ek afgelei het uit grootmense se gesprekke oor Hom. Was ek ook bang vir my pa? Nie regtig nie, dalk ‘n bietjie skrikkerig as ek stout was, maar ek het wel baie groot respek vir hom gehad en juis daarom geluister na wat hy sê. Ek betrap myself dikwels dat ek iets doen presies soos my pa dit gedoen het, dit wil sê ek het baie van hom geleer en kennis opgedoen.

Dit is so ‘n verhouding wat die skrywer van Spreuke bedoel met die gedagte van wat dit beteken om ontsag vir God te hê. Daarom is hierdie vers eintlik die kernvers van die hele Spreukeboek en telkemale in die boek kom die skrywer terug na die tema. As ek reg getel het, ‘n hele 21 keer. Ook in Prediker en Psalms kom dit telkens na vore.

Ontsag is nie om bang te wees nie, maar is juis die vertrekpunt van kennis en wysheid oor God, die skepping en my verhouding met mense. Ontsag vir God beteken om hom volkome te vertrou met my hele lewe.

Die skrywer gebruik ‘n sterk woord wanneer hy sê dat die wat nie ontsag vir God het nie niks anders as sotte is nie. Inderdaad!

Gebed: Here, help my asseblief om elke dag groot ontsag vir U te hê en help my asseblief ook om nooit vir U bang te wees nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS