Bible Society of South Africa

Jou paaie sal altyd reguit wees - 5 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

5Vertrou volkome op die Here

en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

SPREUKE 3:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vertroue op iets of iemand vra ‘n sekere ingesteldheid en daarsonder sal die lewe nie moontlik wees nie. In saketransaksies, die huwelik, spansport, jou werkplek, noem maar op, sal die lewe ondraaglik wees as jy mense nie kan vertrou nie. Selfs nie-lewende dinge vra vertroue. As jy nie jou voertuig kan vertrou nie, hoe sal jy ooit ‘n lang rit aanpak? Om maar net te hoop vir die beste, sal nie deug nie.

Nou weet ons dat jou vertroue op iemand of iets jou soms in die steek laat. Jou sakevennoot verkul jou of jou motor gaan op die onmoontlikste plek staan. In die gewone lewe dra ons vertroue ongelukkig altyd die kiem van moontlike teleurstelling. Sielkundiges sê dat baie mense wat by hulle om hulp aanklop, juis daar is omdat hulle te veel kere deur mense wat hulle vertrou het in die steek gelaat is. Tog het ons nie veel van ‘n keuse as om te bly hoop en vertrou op mense en dinge nie, al word ons dikwels teleurgestel.

Daar is Een, sê die spreuk van vandag, by wie jou vertroue nooit geskok sal word nie, Een wat jou nooit sal teleurstel nie, maar, en dit is ‘n baie belangrike maar, dan moet jy met jou hele hart op Hom vertrou. ‘n Mens dink onwillekeurig aan die woorde van Deuteronomium 6:5: “Jy moet die HERE jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag”.

Tog het ek al so baie kere gehoor dat mense sê die Here het hulle teleurgestel of in die steek gelaat. Die tweede helfte van ons vers hierbo gee die antwoord op die probleem “op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie”. Die woord wat met staatmaak vertaal word, is in die 1933/1953-vertaling met “steun” vertaal. Dit kan ook “leun op” beteken soos om op ‘n kierie of stok te leun vir ondersteuning. Die mens wat net op sy eie insig “leun”, word dikwels teleurgestel, nie deur God nie, maar deur die swakke kierie van eie insig waarop ons so graag vertrou.

Die wat volkome op God vertrou se paaie sal altyd reguit wees. Let wel, nie noodwendig maklik nie, maar altyd reguit.

Gebed: Baie dankie dat ek weet ek kan elke dag volkome op U vertrou en bo alles weet U sal my nooit teleurstel nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS