Bible Society of South Africa

Ons slyp mekaar - 27 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

17Yster slyp yster,

vriende vorm mekaar.

SPREUKE 27:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wat ‘n geweldige verantwoordelikheid. My optrede het ‘n groot invloed op ander. Die idee wat die skrywer hier gebruik van yster wat yster slyp, roep onwillekeurig by my die beeld op van ‘n sjef wat ‘n mes op ‘n slypstaal skerpmaak. Vroeëre jare het omtrent elke kombuis so ‘n slypstaal in ‘n laai gehad. Net so ‘n paar trekke van die mes oor die staal en die mes is weer vlymskerp, maar dan moet jy weet hoe. Ons kontak met ‘n medemens kan vinnig of oor ‘n lang tyd plaasvind, maar sal altyd ‘n vorm van invloed uitoefen op die ander en omgekeerd ook op onsself.

Onlangs in ‘n preek gebruik ons dominee ‘n gedagte wat my nogal baie laat nadink het. Kortliks kom dit daarop neer dat ons nie altyd so baie bekommerd moet wees oor wat ons kinders doen nie, ons moet baie meer bekommerd wees oor wat hulle ons sien doen. Dit is nie net waar van ons verhouding met ons kinders nie, maar van alle mense met wie ons in aanraking kom. Mense hoor hoe ek praat en sien wat ek doen.

Die spreuk sê dat ons die aard van ‘n ander slyp. Die 1933/1953-vertaling sê ons slyp die “persoon” van ‘n ander. Die 1983-vertaling stel die vers baie positief deur te sê “vriende vorm mekaar” en Die Bybel vir almal van 2007 sê dat een mens ‘n ander kan “help om slim te word”. Almal klink na ‘n lang proses en is dikwels lank. Sielkundiges wat werk met mense se probleme, veral deur gesin van oorsprong terapie, sal jou ook vertel dat die aard van alle mense dikwels oor baie jare, en selfs oor meer as een geslag, “geslyp” word.

Sommige mense word egter deur net ‘n kortstondige kontak óf positief óf negatief geslyp. ‘n Ongeoefende messlyper doen soms meer skade aan die snykant van die mes as wat hulle dit skerp kry. Daarom moet ons in langtermynverhoudings, maar ook in kortstondige ontmoetings, altyd versigtig wees en akuut bewus wees hoeveel invloed, positief of negatief, ons uitoefen deur wat ons sê of doen. Ons werk darem mos met God se skepsels.

Gebed: Dankie dat U my geslyp het tot ‘n bruikbare stuk gereedskap in diens van u koninkryk. Gebruik my om in ander se lewens ‘n positiewe invloed uit te oefen. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS