Bible Society of South Africa

Wees altyd besig met die goeie - 26 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

33nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer,

nog 'n bietjie handevou om te slaap,

34en daar kom jou armoede aangestap,

daar oorval die gebrek jou soos 'n inbreker, sonder dat jy dit kan keer.

SPREUKE 24:33-34AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die grootmense in my kinderdae het graag hierdie spreuk gebruik. As jy op ‘n koue winteroggend wanneer die ryp soos poeier uitgestrooi is nog ‘n bietjie in die warm bed wou bly lê, is hierdie spreuk baie gou vir jou aangehaal. ‘n Ander spreuk wat hierby aansluit en net so graag aangehaal is, kry ons in Spreuke 6:6: “Gaan na die mier, luiaard, kyk na sy weë, en word wys.” Luiheid is glad nie geduld nie.

Soos met baie van die spreuke wat ons al behandel het, asook die talle wat ons nie gaan doen nie, vra ‘n mens jouself af hoekom ‘n spreuk soos hierdie in die Bybel voorkom. Dit het tog nie regtig iets te doen met my geloof nie, of hoe? Tog het dit, want selfs ‘n mens se alledaagse lewe het met jou geloof te doen. Ek kan selfs nie my arbeid op watter vlak ook al los dink van my totale menswees en dus ook my geloof nie.

Om ‘n werk te hê is eintlik ‘n groot voorreg, veral in die lig van die baie hoë werkloosheidsyfer. As ek dus die voorreg het om te kan werk, moet ek, as ek die spreuk reg verstaan, bereid wees om voluit te gaan. Dan behoort daar nie tyd of plek te wees vir slaap en sluimer en handjies vou nie. Eksperimente met ‘n werkweek van vier dae is presies die teenoorgestelde van jare gelede toe die meeste gewone werkers selfs Saterdae gewerk en dus ‘n sesdag werkweek gehad het.

In ons moderne samelewing lyk dit asof ontspanning soms voorkeur kry oor arbeid. Mense leef net vir die naweek en sien hulle beroep soms as ‘n noodsaaklike euwel. Hoe noodsaaklik ontspanning ook al is, as dit belangriker raak as ons daaglikse arbeid, sal armoede dalk ook soos ‘n rondloper by ons aankom. Nie noodwendig materiële armoede nie, maar beslis armoede om volledig mens te wees en as ek nie volledig mens is nie, raak dit ook my geloof, my verhouding met God. Arbeid bly tog God se opdrag aan ons.

Gebed: Hemelse Vader, baie dankie vir die gesondheid en krag wat ek elke dag nodig het om my werk te kan doen. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS