Bible Society of South Africa

My broer se hoeder - 28 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

8Praat jý vir dié wat self nie hulle sê mag sê nie,

kom op vir die reg van dié wat te gronde gaan;

9praat, en lewer regverdige uitsprake,

laat reg geskied aan die armes en ellendiges.

SPREUKE 31:8-9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Heel vroeg in die Bybel vra God vir Kain: “Waar is Abel, jou broer?” Ewe arrogant antwoord Kain: “Ek weet nie; is ek dan my broer se oppasser?” Wat is my plig as dit by ander mense kom? As ek die Bybel reg verstaan, verwag God inderdaad dat ek my broer en suster en ook die vreemdeling se oppasser moet wees.

Hierdie “oppas” kom in verskillende vorme voor. Dit behels onder andere dat ek nie ‘n ander sal sien honger ly of koud kry of watter tekort daar ook op materiële gebied mag wees nie. Dit beteken dat ek sal help dat elke gelowige ‘n eie Bybel kan bekom. Ek is ook verantwoordelik vir die geestelike en emosionele welsyn van my medemens.

Ons spreuk van vandag raak ‘n aspek van versorging aan waaraan ons dalk nie altyd genoeg aandag gee nie, want dit is ‘n netelige saak, en tog is dit ‘n opdrag van God: “Maak jou mond oop vir die stemlose … die magtelose en behoeftige”.

In Stories vir die Lewe lees ek pastoor Martin Niemöller sê dat in die Tweede Wêreldoorlog is die kommuniste in hulle dorpie eerste weggeneem, en hy het stilgebly want hy was nie ‘n kommunis nie. Daarna het die vyand agtereenvolgens die Jode, vakbondwerkers en Katolieke kom haal en hy het elke keer niks gesê nie, want hy was nie ‘n Jood, vakbondlid of Katoliek nie. Toe die vyand uiteindelik ook vir hom kom haal, was daar niemand oor om namens hom iets te sê nie.

In ons samelewing is daar ook so baie stemlose mense wat vanweë hulle omstandighede magteloos is, mense wat soek en pleit vir ‘n bietjie beter lewe, maar nêrens gehoor word nie. Daar is dikwels niemand om namens hulle iets te sê nie. Soms kom jou kind van die skool af en vertel van ‘n ander kind wat geboelie word en jy doen niks, want dit is nie jou kind wat geboelie word nie. Dalk is dit ‘n kollega wat deur die bestuurder sielkundig afgeknou word, maar omdat jy vrees vir reperkussies bly jy liewer stil.

Kom ons raak dapper en doen wat God vra, en word ‘n stem vir die stemlose.

Gebed: Liewe Vader, maak my ‘n stem vir die stemlose en gee asseblief vir my vriende en familie wat vir my ‘n stem kan wees as ek op ‘n dag sonder stem is. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS