Bible Society of South Africa

Om vergenoeg te wees - 14 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

1Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby

as 'n huis vol kos met 'n getwis daarby.

SPREUKE 17:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Don Quijote van Miguel de Cervantes is een van die mees ikoniese romans van alle tye. Die ou dolende ridder en sy alter ego Sancho Panza leer mens so baie van die lewe. Toe ek vandag se spreuk lees, het ek aan ‘n aanhaling uit die boek gedink. Andre P Brink het dit uit Spaans vertaal. Sancho Panza is aan die woord: “Al is dit net brood en uie wat ek in my hoekie staan en eet sonder om te bodder oor tafelmaniere en fieterjasies, dan smaak dit vir my sommer ‘n ént lekkerder as die kalkoen op ‘n tafel waar ek moet stadig kou, en min drink, en my mond kort-kort moet afvee, en waar ek g’n kan hoes of nies soos ek wil nie.”

‘n Stukkie droë brood, sonder iets te drinke om dit mee af te sluk, teenoor oorvloedige maaltydoffers. Die vertaling van laasgenoemde woord is bietjie problematies, maar kan dalk wys op ‘n maaltyd waar vleis volop was. Spreuke 15:17 praat ook van “ ’n Porsie groente met liefde daarby is beter as ‘n vetgevoerde bees met haat daarby.” In ons teks vir vandag word die stukkie droë brood dan in kontras gestel met ‘n baie groot ete.

Maaltye in Bybelse tye was minder gejaagd as in ons moderne tyd en die hoofmaaltyd van die dag was gewoonlik ‘n rustige en vreugdevolle geleentheid waar gesinne en dikwels ook vriende tyd saam om die tafel deurgebring het. ‘n Getwis en bakleiery het glad nie hierby gehoort nie.

Die skrywer van die spreuk gebruik hierdie metafoor van ‘n eenvoudige ete met rus daarby in teenstelling met ‘n feesmaal waar almal aan die twis is, om vir ons weer die belangrike les van liefde en eensgesindheid te leer. Dit geld nie net binne gesinsverband nie, maar ook in ‘n wyer verband. Dit gaan vir my selfs nog baie verder as dit, want dit is veral ook in die huisgesin van God waar daar geen plek is vir twis en baklei nie.

Gebed: Dankie dat U ons deur hierdie eenvoudige beeld wil leer dat vrede en rus baie belangriker is as om baie belangrik te wees. Help my asseblief om so te leef. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS