Bible Society of South Africa

Opgewek of neerslagtig - 15 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

22'n Vrolike mens is 'n gesonde mens,

'n neerslagtige mens raak uitgeput.

SPREUKE 17:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar is seker maar min van ons wat kan sê dat die swart hond van terneergedruktheid of depressie nog nooit op ons spoor geloop het nie. Ek praat nie noodwendig van kroniese depressie wat medikasie vereis nie, maar van daardie dae wat ‘n mens sommer net in die bed wil bly lê en jou kop onder die kombers wil toetrek teen die lewe. Dit lyk vir my asof dit niks nuuts is nie. Salomo het amper drieduisend jaar gelede geleef en hy weet van ‘n neerslagtige gees wat die gebeente uitdroog.

Die woord “gebeente” beteken nie letterlik ons geraamte nie, maar word as sinoniem vir die totale mens gebruik en sluit liggaam en siel in. Ons kry die uitdrukking ook by Job en in sommige psalms. Almal van ons wat al neerslagtig was, sal heelhartig met hierdie uitlegging van die woord saamstem. Neerslagtigheid tas ons in ons hele menswees aan. Dit voel letterlik of jy leeg gesuig word, of soos die teks sê, uitgedroog word.

Is daar ‘n resep daarteen? Daar is boeke vol geskryf oor hoe ‘n mens teen die neerslagtigheid moet baklei. Baie gee nuttige inligting; vanaf gewone dinge soos dat jy eers net uit die bed moet kom, een voet voor die ander een moet sit, ‘n entjie moet gaan stap, vir jou ‘n koppie koffie moet maak, tot by ingewikkelde sielkundige rate. Die spreuk het sy eie resep waarin aanbeveel word dat jy ‘n vrolike hart moet kry, want dit “is goed vir herstel”. Makliker gesê as gedoen.

Op die ou einde lyk dit vir my of ‘n vrolike hart nie noodwendig vanself kom nie, maar iets is waaraan dikwels gewerk moet word. Sommige mense is van nature meer “vrolik” as ander. Ons grootword jare, ons verhoudings, ons gesondheid, ons fiksheid, die soort kos wat ons eet en nog baie ander dinge het alles ‘n invloed op hoe “vrolik” ons is. Aan sommige kan ons iets doen, aan ander kan ons min verander. Die geheim is om werklik daarvan werk te maak om die lewe nie permanent deur ‘n donkerbril te bekyk nie, maar om vir jouself geleenthede te skep wat jou “vrolik” maak. Ek glo egter die belangrikste van alles is om vrede in jou hart te hê oor jou verhouding met God. Dit is die vertrekpunt vir die herstel waarvan die spreuk praat.

Gebed: Hemelse Vader, ons bid dat U ons sal help wanneer die sorge van die lewe soms berghoog voor ons lê. Help ons om te verstaan dat ons juis vrolik kan wees en kan juig omdat ons weet U het ons oneindig baie lief. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS