Bible Society of South Africa

Nóú weet hulle wat ons weet ... - 1 Februarie 2024

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

Wat geloof is

1Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

HEBREËRS 11:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Twee Sondae gelede was die restaurante in Suid-Afrika vroegdag reeds volgepak om die geveg tussen Suid-Afrika se Dricus “Stillknocks” du Plessis en die Amerikaner, Sean Strickland, in Toronto, Kanada dop te hou. Ná vyf rondtes is Dricus as die Ultimate Fighting Championship (UFC) se middelgewig wêreldkampioen aangewys!

Die ondersteuning uit Suid-Afrika was tasbaar. Dricus kon dit voel. In sy toespraak het hy selfs spottenderwys gesê dat as die gehoor vir ’n oomblik sou stilbly, hulle die ondersteuners in Suid-Afrika sou kon hoor. Wat ek die meeste van gehou het, was sy woorde aan die ondersteuners: “Suid-Afrika, nóú weet hulle wat ons weet.” Dricus het ’n onblusbare geloof in sy hart gehad dat hierdie mylpaal moontlik was.

Regdeur die Bybel lees ons van ’n paar mense wat met hulle rug teen die muur gestaan het. Al wat hulle gehad het, was hulle geloof in ’n onsigbare God se vermoë om wonderwerke te doen. Elia op Karmelberg. Daniël in die leeukuil. Moses by die Rooisee. Sadrag, Mesag en Abednego voor die vuuroond. Al wat hulle moes doen was om op te daag, hulle geloof in aksie te sit en terug te staan sodat God sy vermoë om wonderwerke te doen aan die mense om hulle kon openbaar.

In Hebreërs 11:1, 1983-vertaling, lees ons: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Wat staar jy vandag in die gesig? Siekte? Finansiële tekort? ’n Gebroke verhouding? Werksdruk? Wéét jy wie God is? Glo jy dat Hy nie verander nie? Sal jy Hom blindelings vertrou? Staan sterk in jou geloof. Binnekort kan jy dalk ook terugkyk en sê: Kyk, nóú weet almal dat Hy werklik leef! Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie vir u goedheid en guns. Ek plaas my geloof en vertroue in U, wetende dat U die onmoontlike kan moontlik maak vir (noem die situasie). Maak asseblief my hart rustig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS