Bible Society of South Africa

In pas met God: Verduur en oorwin - 31 Januarie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

Versoeking en verleiding

12Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

JAKOBUS 1:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

Op ‘n dag, terwyl ek vreedsaam en alleen met ons hond, Lily, in die buurt stap, het ek oor geloof en antwoord op gebed nagedink. Ek was bewus van ‘n intense geblaf van agter ‘n hoë hek – ‘n alledaagse geluid in die buurt – maar op die presiese oomblik wat ek die Here ‘n sielsondersoekende vraag gevra het, het hierdie hond se kop bo die twee meter hek verskyn, in ‘n oogwink oorgespring en woedend op die arme Lily afgestorm.

Geskok, maar ferm het ek uitgeroep: “huis toe” terwyl ou Lily terselfdertyd omgedraai en reguit na haar aanvaller gekyk het, gereed om aan te val. Die hond het omgedraai en stert tussen die bene weggehardloop. Ons was ongeskonde en baie verlig. Ek was gevul met verwondering vir Lily se dapperheid en was baie dankbaar dat dit nie in iets leliks ontaard het nie. Ek glo dat God ons daardie dag beskerm het en my gehelp het om kalm te bly, alhoewel my hart op loop gesit het. Hy het ook vir my ‘n antwoord gegee oor en insig in die aard van beproewing.

Beproewings, toetse en versoekings is uitdagings wat ons elke dag beleef. Dit veroorsaak stres wanneer ons dit hanteer – soos eksamens – en dit benodig geloof, selfdissipline en opoffering om dit te oorkom. Alhoewel beproewings en versoekings in verskillende gedaantes kom, sommige net vir ‘n kort rukkie, ander langer, maar elkeen is lewensveranderend.

Jakobus is so positief hieroor dat hy sy brief begin met: “Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval …” (Jakobus 1:2) Hy weet dat beproewings geloof verdiep en uithouvermoë ontwikkel, ‘n belangrike bestanddeel vir geloof om te groei en vir ons om geestelik volwasse te word. Die Bybel is vol voorbeelde van mans en vrouens, soos Job en Rut, wat buitengewone lyding verduur het en tog ryklik geseën is. Dink ook aan wat Jesus in liefde en vir ons vryheid, verduur het.

In vandag se teksvers identifiseer Jakobus versoekings as die middel waardeur Jesus, deur geloof en uithouvermoë, die gelowige se liefde vir Hom toets. Hy sien dit as ‘n geleentheid vir seëning. Geloof benodig inhoud wat deur aksie voorsien word – niemand is passief tydens ‘n beproewing of versoeking nie. Jakobus moedig sy lesers aan om vooruit te kyk na ‘n baie groot beloning wat lê en wag vir diegene wat die versoeking deurstaan en die toets slaag – die “oorwinningskrans van die lewe … wat God beloof het aan hulle wat Hom liefhet”.

Niemand hou van beproewings nie, maar kyk mens terug is dit dikwels duidelik hoe God altyd vir ons voorsien het, en besef ons dat ons deur die proses nader aan Hom gegroei en meer volwasse in ons geloof geword het.

“Maar al moes julle vir ‘n kort tydjie ly, sal die God van alle genade, wat julle tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus geroep het, julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig. Aan Hom die krag tot in ewigheid. Amen.” (1 Petrus 5:10-11)

Gebed: Liefdevolle Vader, skenk aan my wysheid om in pas met U te bly ook deur al die versoekings en beproewings wat oor my pad kom. Help my om te onthou dat “ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons ‘n gewigtige en allesoortreffende ewige heerlikheid.” (2 Korinthiërs 4:17) Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS