Bible Society of South Africa

Hy beskerm ons - 2 Februarie 2024

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

9Omdat jy die Here as skuilplek geneem het,

die Allerhoogste as jou beskermer,

10sal geen onheil jou tref

en geen plaag naby jou woonplek kom nie.

11Hy sal sy engele opdrag gee

om jou te beskerm waar jy ook al gaan.

PSALMS 91:9-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die 9/11 Memorial Museum in New York is daar heelwat stories van helde wat op daardie skrikdag in 2001 gehelp het om lewens te red. Hier is een só ‘n storie:

Net ná 09:00 die oggend van 11 September 2001 het die tweede gekaapte vliegtuig teen die suidelike toring van die Twin Towers-geboue in New York, Amerika vasgevlieg.

Met rook wat by die geboue uitborrel en mense wat so vinnig moontlik die gebou probeer verlaat het, het brandweermanne by die geboue ingehardloop om beseerde mense te gaan red. Onder dié groep was luitenant Matt Komorowski en vyf ander brandweermanne van Ladder Company 6.

Komorowski en sy span was op die 90ste verdieping van die noordelike toring, toe die suidelike toring inmekaarstort. Hulle opdrag was om die gebou onmiddellik te ontruim. Op pad teen die trappe af het die groep ’n beseerde vrou, Josephine Harris, gekry. Hulle het haar opgetel en teen die trappe afgedra. Toe hulle die agtste vloer bereik, het die noordelike toring inmekaar begin tuimel.

Komorowski vertel dat hy aan die mense voor hulle op die trappe geskree het om vinniger te beweeg. Die getuimel van die gebou kon egter nie gekeer word nie. In daardie oomblik het die ondenkbare gebeur: die gebou het inmekaar getuimel, maar die gedeelte van die trappe waar hulle gestaan het (later bekend as Stairwell B), het in plek gebly. Al ses brandweermanne, insluitende Josephine, is na vier ure onder bourommel, lewend uit die gebou gered. Komorowski het later gesê dat dit vir hom voel asof hulle op die presiese plek gestop het waar hulle veronderstel was om te stop toe die gebou inmekaar begin tuimel.

In Psalm 91:9-11, 1983-vertaling lees ons: “Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Allerhoogste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref en geen plaag naby jou woonplek kom nie. Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan.”

Ek kan nie help om te wonder: Was daar dalk ’n man of vrou op daardie trap wat God gevra het om in te gryp en hulle te beskerm? Het God sy engele die opdrag gegee om spesifiek daardie stel trappe regop te hou en te beskerm om nie na onder te tuimel nie? Die trappe is vandag in die museum – ’n teken van die wonderwerk wat daardie dag in New York gebeur het.

God sluimer en slaap nooit nie. Hy is stééds die Allerhoogste, ons Beskermer. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U ’n veilige skuilplek is vir elkeen wat by U kom skuil. Beskerm asseblief my geliefdes en ook vir my vandag. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS