Bible Society of South Africa

Nog meer goeie nuus - 14 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

17Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek van die verborge manna gee, en daarby sal Ek vir hom 'n wit steentjie gee met 'n nuwe naam daarop gegraveer, wat niemand anders ken nie, net hy wat dit kry.

DIE OPENBARING 2:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

In Eksodus 16 kla die Israeliete wat so pas verlos is uit slawerny waarin hulle in Egipte vasgevang was, dat daar nie kos in die woestyn vir hulle is nie. Hulle verlang terug na die vleispotte van Egipte en vergeet van die swaarkry wat hulle as slawe moes deurmaak. God sê in Eksodus 16:4 vir Moses: “Kyk, Ek gaan vir julle brood uit die hemel laat reën …” Hierdie brood is deur die volk manna genoem wat afgelei is van die Hebreeuse woord “man”. Die woord beteken “wat” omdat hulle die eerste dag toe God die brood laat reën het, gevra het “wat is dit?”. (Voetnoot by 2020-vertaling)

Ons moet steeds onthou dat baie van die lidmate van die gemeentes uit die heidendom gekom het. In Pergamum se gemeente is daar ook weer mense wat terug hunker na die tyd toe hulle afgode aanbid het. Daarom neem hulle weer deel aan die eet van afgodsoffers en ook onsedelike gedrag. Laasgenoemde het gewoonlik deel gevorm van die rituele by afgodaanbidding. ‘n Voordeel van hierdie terugkeer na afgodediens was dat jy op die manier ook die vervolging van gelowiges wat daardie tyd plaasgevind het, kon vryspring.

Die gemeentelede wat ten spyte van vervolging bly vashou het aan die geloof in Jesus, word getroos deur sy belofte van “verborge manna”. Teenoor die afgodskos wat jou dalk kon vrymaak van wêreldse vervolging, skenk Hy die geestelike voedsel wat nodig is om staande te bly in vervolging en verdrukking. Ons kan elkeen vir seker weet dat Jesus die nodige geestelike manna ook op ons sal laat reën in ons tye van beproewing.

Dit is nog nie al nie. Jesus belowe ook vir hulle ‘n wit klippie. Volgens die Verklarende Bybel word die beeld aan die beginsel van regspraak verleen. ‘n Wit klippie het vryspraak beteken en ‘n swart klippie veroordeling. Jesus beloof dus ook aan elke gelowige wat Hom getrou bly volg volkome vryspraak van sonde. Ook hier kan ons die gedagte van slawerny gebruik. Jy en ek kan saam met die gelowiges van meer as tweeduisend jaar gelede weet dat Jesus ons vrygemaak het van die slawerny van sonde en oortreding. Ons het reeds ook ons wit klippies ontvang.

Gebed: Bewaar ons asseblief van ‘n hunkering na die “vleispotte” van die wêreld en gee asseblief elke dag vir ons oorvloedige geestelike manna. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS