Bible Society of South Africa

Jesus is vrygewig - 13 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

7Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.

DIE OPENBARING 2:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Is dit regtig die moeite werd om te glo? Ons weet immers dat in ons tegnologiese eeu met al sy wetenskaplike openbarings al meer mense so half agter hulle hande lag vir ons wat as gelowiges so dom is om nog aan godsdienstige mites vas te klou.

In ‘n brief in ‘n koerant lees ek dat iemand kerke sien as besighede wat godsdiens verkoop. Die skrywer is ook duidelik moeg vir die “gekibbel oor kerk-nonsens wat vir geen mens enige waarde het nie.” ‘n Ander praat ietwat smalend van ons geloof in ‘n “Heilige Skrif waar donkies en slange kan praat en dooie mense uit hulle grafte kan opstaan en in ‘n stad kan gaan rondkuier”. Wat maak dan dat jy en ek ten spyte van dit alles volhard in die geloof? Natuurlik ons liefde vir God wat ons Vader is en Jesus wat ons Verlosser is en die Heilige Gees wat ons Trooster is.

In die briewe aan die sewe gemeentes het Jesus hulle geprys, maar ook op hulle foute gewys. Tog is dit is nie al nie. Hy gee ook vir hulle en ons elkeen wat vashou aan ons eerste liefde, wonderlike beloftes. Ons moet weer onthou dat die beloftes wat vir een gemeente geld natuurlik ook vir elke ander geld. Nadat Hy die gelowiges in Efese opgeroep het om hulle te bekeer, kom die belofte “Aan wie oorwin, sal ek te ete gee van die boom van die lewe wat in God se paradys staan.” (2020-vertaling)

Volgens die verhaal van Adam en Eva in Genesis was dit juis dit wat die mens vanweë die sondeval verloor het. Genesis 3:22: “Toe het die Here God gesê: ‘Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie’”. Nou het Jesus die prys betaal sodat ons werklik vir ewig kan lewe. Die Paradys staan weer vir ons oop.

Die belofte aan Smirna sluit hierby aan as Jesus vir hulle sê “Wie oorwin sal beslis nie deur die tweede dood skade ly nie”. (Openbaring 2:11, 2020-vertaling) Dit beteken die straf op die sonde sal nie die gelowiges tref nie. In Jesus is ons vry. Dit is regtig nog die moeite werd om te glo.

Gebed: Ons dank U dat U ons so lief het dat U vir ons toegang tot die boom van die lewe gee deur Jesus wat vir ons die dood oorwin het. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS