Bible Society of South Africa

Die boek van die lewe - 15 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

26Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee.

DIE OPENBARING 2:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

5Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.

DIE OPENBARING 3:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

 

Kan enigeen ‘n president of koning of politieke heerser word? Dit lyk so as ‘n mens die beloftes van die brief aan Tiatira letterlik verstaan. Jy kry mos mag oor die nasies. Natuurlik is dit nie wat Jesus hier bedoel nie. Die mag waarvan hy hier praat is om nie bevrees te wees oor wat die wêreld aan jou kan doen nie. Vir die gelowiges wat juis in die tyd swaar gekry het onder die vervolging deur die Romeinse keiser, het dit baie sin gemaak. Selfs tydens die ergste vervolging weet hulle dat al sou hulle liggaamlik dalk erg ly, geestelik is hulle “heersers” oor selfs die mag van die keiser. Niks kan hulle geestelik skade aandoen nie.

Jesus werk hierdie gedagte nog verder uit deur ook aan hulle die môrester te beloof. In Openbaring 22:16 lees ons dat Hy self die Môrester is. Die môrester was nog altyd ‘n simbool van hoop, want as dit vroegoggend sigbaar raak, weet ‘n mens dat die nag verby is. Wanneer jy die ware Môrester in jou lewe sien opkom, weet jy dat die sondenag finaal verby is.

As kind het dit my nogal beangs gemaak om te hoor dat alles wat jy doen en sê langs jou naam in God se groot boek opgeskryf word. Al die stoutighede waarvan my ouers nie geweet het nie, kon dalk net op ‘n dag uitgeblaker word! Gelukkig weet ek nou as volwasse gelowige dat ek nie daaroor bekommerd hoef te wees nie. Wanneer ek in wit klere geklee word as simbool van die uitwissing van my sonde, word ook die boek inskrywings uitgevee. Baie belangrik is verder die feit dat my naam in God se boekrol opgeteken is en my naam nooit uitgevee sal word nie. Ek sê nie so nie, Jesus sê dit self hier in die brief aan die gemeente in Sardis. Hy gaan selfs verder en getuig voor God die Vader oor my.

Gebed: Hoe kan ek U ooit genoeg dank dat U my naam met u kruisbloed in die boek van die lewe geskryf het en niemand, maar niemand kan dit ooit weer uitvee nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS