Bible Society of South Africa

Geloof wat die toets van die tyd weerstaan - 26 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

5Die ministers en die goewerneurs-generaal het toe iets teen Daniël probeer kry oor die manier waarop hy die administrasie behartig het, maar hulle kon nie. Hulle kon ook geen onreëlmatigheid vind nie, want Daniël was betroubaar en was aan geen nalatigheid of onreëlmatigheid skuldig nie.

Neem ‘n mens vandag se totale aanslag op Christelike waardes in ag, word dit al hoe moeiliker om die Woord van God te verdedig. Deur vir jou geloof op te staan, laat ‘n mens dikwels voel of jy heeltemal teen die kultuur van die dag en heel uit pas met die samelewing is.

Dit is miskien nou vir ons so moeilik omdat baie van ons ‘n samelewing geken het waar Christelike waardes hoog geag is. In kulture waar dit nie maklik is om Christenskap aan te neem nie, het gelowiges nog altyd in die skadu van vervolging of selfs die dood, geleef.

Hoe bly ons getrou aan die Woord in hierdie tye waar die kernbeginsels van ons geloof opnuut bevraagteken word en baie mense die geloof vermy? Miskien moet ons ‘n besoek bring aan ‘n balling in Babilonië: Daniël. Kom ons lees weer Daniêl 6:4-6: “Hierdie Daniël het homself onderskei van die toesighouers en satrape, omdat ‘n buitengewone gees in hom was; en die koning het beplan om hom oor die hele koninkryk aan te stel. Daarop het die toesighouers en satrape na ‘n rede vir ‘n aanklag teen Daniël gesoek in verband met die koninkryk, maar hulle kon geen rede of fout vind nie, omdat hy betroubaar was. Geen nalatigheid of fout is by hom gevind nie. Dié manne sê toe: “Ons sal nie enigiets vind teen hierdie Daniël nie, behalwe as ons iets teen hom vind in die wet van sy God.”

Dit het gelyk asof hulle in hulle doel geslaag het toe Daniël in die leeukuil gegooi is. Die koning, letterlik gedwing deur ‘n bevelskrif wat hy uitgevaardig het, kon niks doen om hom te red nie. Daniël het wonderbaarlik oorleef en in Daniël 6:23 verduidelik hy hoekom: “My God het sy engel gestuur en Hy het die bekke van die leeus gesluit, sodat hulle my geen leed kon aandoen nie, omdat ek voor Hom onskuldig bevind is. Ook u, o koning, het ek geen leed aangedoen nie.”

Vir Daniël was dit ‘n goeie uitkoms, maar daar was ander wat sekerlik geweet het die skrif is aan die muur toe hulle in die leeukuil beland het. Die koning het nog ‘n bevelskrif uitgevaardig waarin hy opdrag gegee het dat die God van Daniël gevrees en aanbid moet word.

Dit is duidelik dat ons pad met God belangrik is, ons integriteit is belangrik, ons gebedslewe maak saak. Op ‘n dag het God ‘n bejaarde Joodse edelman op ‘n kragtige manier gebruik omdat hy nooit opgehou het om in sy God te glo en Hom te vertrou nie. Daniël het van die begin van sy ballingskap ‘n onberispelike geloofsrekord gehad en hy het nooit gestruikel nie: van die onrein kos wat hy vermy het, tot die feit dat hy sonder ophou drie keer ‘n dag gebid het. Hy het volgehou in sy geloof tot so ‘n mate dat die koning kon sê dat Daniël God voortdurend gedien het.

Om in moderne “Babilonië” te leef, is nie maklik nie, maar ons het hierdie manne van ouds om ons te inspireer om lewens waardig aan die evangelie te leef. “Nog net dit: Tree so op dat dit die evangelie van Christus waardig is, sodat, of ek kom en julle sien, of nie teenwoordig is nie, ek aangaande julle omstandighede mag hoor dat julle in één gees vasstaan, en een van hart en siel saam stry vir die geloof in die evangelie.” (Filippense 1:27)

Gebed: Here, dankie vir geloofshelde wat ons kan navolg wanneer dit moeilik is om volgens u Woord te leef. Dankie vir hulle voorbeeldige lewens wat ons vandag nog inspireer. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS