Bible Society of South Africa

Nie alles is reg nie - 12 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

4Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie.

DIE OPENBARING 2:4AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die twee gemeentes (Sardis en Laodisea) waaroor ons verlede Vrydag geskryf het, was dinge ernstig verkeerd, maar ook in Efese, Pergamum en Tiatira was daar dinge waarvan Jesus gesê het: “Ek hou dit teen jou.” Is dit regtig moontlik dat dieselfde gemeentes en gelowiges wat so deur Jesus geprys is ook foute het? Ongelukkig ja. Seker ook in ons elkeen se lewe.

‘n Opname van ‘n mens se geestelike tekorte kan jou baie terneergedruk maak, of jy kan dit as geleentheid sien hoe om Jesus nog meer getrou te volg. Dit is waarom Jesus die dinge vir die gemeentes uitwys. Ons kan seker elkeen ‘n lang lys maak van wat aandag kort in ons eie geestelike lewe, maar dalk help dit om onsself af te vra of dit wat Hy hier noem nie dalk ook by ons aanwesig is nie.

Die gemeentelede van Efese was ‘n bedrywige klomp. Jesus noem van hulle inspanning en volharding en die feit dat hulle nie moeg geword het om ter wille van sy Naam te arbei nie. Miskien was hulle so besig dat hulle volgens Jesus hulle “eerste liefde versaak het”. (Openbaring 2:4) Liefde vir Jesus is die heel belangrikste. Paulus skryf in 1 Korinthiërs 13:2 nie verniet dat “… al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het nie liefde nie, is ek niks!” Het ek nog tyd om Jesus lief te hê soos aan die begin of is ek dalk ook te besig?

Pergamum is ‘n gemeente wat erg vervolg is en Jesus prys hulle dat hulle ten spyte daarvan nie hulle geloof in Hom verloën het nie. Ook in Tiatira sien Jesus hulle “dade en liefde en geloof en diens en volharding.” (Openbaring 2:19) Vreemd genoeg duld sommige lidmate in hierdie twee goeie gemeentes mense met afwykende leerstellings, mense wat die gemeente verlei tot verkeerde dinge.

Beteken dit in my lewe dat ek byvoorbeeld nie vriende mag hê wat nie gelowig is nie. Nee, ek dink nie dit is wat Jesus bedoel nie. Hy wil dat binne sy kerk, waarvan ek ook lidmaat is, nie afgewyk word van wat God in sy Woord vir ons geleer het nie. Dit is jou en my plig om hieroor te help waak. Ons kan dit nie net so aan die kerkleiers oorlaat nie.

Gebed: Liewe Jesus vergewe my dat ek dikwels so besig is dat ek ook my liefde vir U afskeep en ook nie altyd praat as ek hoor dat mense u boodskap verdraai nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS