Bible Society of South Africa

Nader tot God en Hy nader tot jou – 21 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

8Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.

Op Woensdag, 8 Februarie het die studente van die Metodiste Asbury Universiteit in Kentucky, Amerika oudergewoonte vir die oggenddiens in die kapel op kampus aangemeld. Alles het soos normaal verloop totdat die koor hulle laaste lied gesing het. ’n Jongman het opgestaan en spontaan sy sonde hardop bely. Meteens het ’n stille goddelike teenwoordigheid van die Heilige Gees oor die gebou neergedaal. Só intens en opvallend was dit dat nie een van die studente die gebou wou verlaat nie. Die lofprysing en gebed het aangehou terwyl nog mense deel van die diens geword het.

Teen die naweek was dit reeds 12 dae sedert daardie oorspronklike diens. Die nuus van die Asbury Herlewing is nou wêreldwyd bekend en mense stroom van oraloor om in ’n ry te staan om iets hiervan te beleef.

Wat my opval van hierdie beweging, is dat geen bekende pastoor of predikant betrokke was nie. Daar is niemand wat voorvat en wil voorsê wat volgende moet gebeur nie. Die fokus is op God. Hy staan sentraal. Diegene betrokke beskryf dit as: “’n Beweging waartydens gewone mense met ’n buitengewone honger na God, sy teenwoordigheid beleef.”

Die gebeurtenis laat my dink aan die belofte in Jakobus 4:8: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”

God se belofte staan steeds vas. Wanneer gewone mense met ’n buitengewone honger vir Hom na Hom gaan, daag Hy op en sy teenwoordigheid verander ons lewens. Sterkte.

Gebed: Vader God, ek wil U meer intens in my eie lewe ervaar – net soos die mense by Asbury Universiteit. Vergewe asseblief al my sonde en wys my as daar enige blokkasie tussen ons is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS