Bible Society of South Africa

Is jy al ooit seergemaak? – 22 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

17Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.

Wees goedgesind teenoor alle mense.

18As dit moontlik is, sover dit van julle afhang,

leef in vrede met alle mense.

19Moenie self wraak neem nie, geliefdes,

maar laat dit oor aan die oordeel van God.

Daar staan immers geskrywe:

“Dit is mý reg om te straf;

Ék sal vergeld,”

sê die Here.

ROMEINE 12:17-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Het jy jouself al ooit in ’n situasie bevind waar jy goed is vir die mense om jou, maar konstant snedige opmerkings na jou kant moet verduur? Of dalk het jy onlangs uitgevind dat mense wat jy gedink het vir jou lief is agter jou rug sleg praat van jou.

Dit maak seer. En wanneer ’n mens seerkry is ons geneig om terug te wil seermaak.

In Romeine 12:17-19 vind ons egter raad oor hoe ons hierdie uitdagende situasies moet hanteer: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is mý reg om te straf; Ék sal vergeld,’ sê die Here.” (1983-vertaling)

Ons oorwin die kwaad met die goeie. Deur ’n seermaaksituasie aan God oor te gee en vir ons vyande te begin bid, bring nie net vrede in ons lewens nie; dit help ons ook om te beleef hoe Hy bonatuurlik diegene wat die seer veroorsaak se harte verander. Dit maak ons vry. Sterkte.

Gebed: Vader God, U ken my situasie. U weet wie my seermaak. Help my asseblief om my hart te beskerm. Ek gee dit oor aan U. Help my asseblief om vrede in my lewe te beleef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS