Bible Society of South Africa

‘n Vrugbare lewe! – 12 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos 'n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

JOHANNES 15:5-8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Een van die groot vrae wat die dissipels vir Jesus gevra het, was wat God van ons wil hê. Een van die mooi antwoorde sien ons in vers 8 – ons is geroep om baie vrug te dra, wat God sal verheerlik. Dit gebeur wanneer ons dissipels is, mense wat Jesus volg waar Hy ons lei. Dissipels is mense wat hulle hele lewe daaraan wy om Jesus in alle opsigte te volg. Hy is Here oor elke stukkie van ons lewe, en in alles wat ons doen, wil ons Hom graag eer.

In vers 5 sien ons die geheim – ons is juis gemaak om in Jesus te bly. Ons plaas ons vertroue in hierdie lewe in Hom. Hy is ons Here en ons Verlosser. Hy stel ons in staat om die vrug te dra. Mense wat nie in Hom glo nie, kan nie die vrug dra wat God verlang nie.

Om vrug te dra, moet ons in Jesus bly. Ons moet ons geloof in Hom stel. Ons gaan nie uit ons eie vrug dra nie. Die Here verwag dit ook nie van ons nie. Daarom is een van die kragtigste hulpbronne wat Hy ons gegee het, die voorreg om te mag bid. Wanneer ons saam met Hom ons lewenspad stap, en sy woorde toelaat om ons lewe te vorm, kom die uitnodiging: Het jy iets nodig om vrug te dra? Bid! Vra dit van die Here, want Hy wil dit graag vir jou gee!

Vers 7 word so maklik misbruik as dit om ons eie belange gaan. Die Here gee ons nie ‘n blanko tjek om net te vra wat ons eie hart begeer nie. Daar is ‘n voorwaarde, en ‘n gevolg. Die voorwaarde: bly in My, volg my Woord. Die gevolg: omdat jy my wil soek, sal jy ontvang wat jy nodig het.

Die Here wil ons so graag help om vrugbare lewens tot sy eer te lewe. Jesus het dit ook in die Bergrede gesê, in Matteus 6:33 “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Die Here weet wat ons nodig het, nog voordat ons vra. Hy voorsien, sodat ons vrugbaar kan lewe tot sy eer.

Gebed: Here Jesus, in U is die lewe. Help my om in U te bly, sodat ek waarlik kan lewe en vrug dra tot u eer. Ek wil ‘n getroue dissipel wees, wat in u voetspore volg waar U my lei. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS