Bible Society of South Africa

Die vrug van liefde – 13 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

Julle moet mekaar liefhê

9“Soos die Vader My liefhet, het Ek julle ook lief. Julle moet in my liefde bly. 10As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.

11“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees.

JOHANNES 15:9-11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Alles wat die Here van ons vra, is gegrond in sy liefde. Dit verander my hele lewensuitkyk as ek verstaan dat God se liefde die fondament van my lewe is. Die Vader het uit liefde hierdie wêreld geskape, en uit liefde die mens na sy beeld geskep. Ons mense het van Hom afgedwaal, en was verlore sonder Hom. Sy liefde het ons weer kom opsoek, uit liefde het Hy sy Seun na hierdie wêreld toe gestuur.

Jesus het die Vader se liefde met ons kom deel. Soos die Vader Hom liefhet, net so het Hy ons as mense ook lief. Sy hele sending na hierdie wêreld was daarop gerig om ons terug te nooi na die verhouding met God. Hy het alles wat skeiding gemaak het tussen ons en God kom wegneem, sodat ons weer kinders van God deur geloof kan wees. Hy het ons so lief dat Hy bereid was om aan die kruis vir ons te sterf. Wanneer Jesus ons verhouding met God kom herstel, maak Hy van ons nuwe mense, mense wat in die liefde van God lewe.

Wanneer ons Jesus as Here leer ken, dan vra Jesus: “kom deel in die liefde wat my Vader vir My het, en wat Ek vir julle het. Julle moet in my liefde bly …” Ons kan so vasval in ‘n klomp wettiese reëls en regulasies, en dink ons moet dit alles nakom om God te behaag. Jesus het al die reëls na een lewensbeginsel toe vereenvoudig: Lewe in liefde! Soos Hy vir die Fariseër in Matteus 22:34-40 gesê het om die Here lief te hê met ons hele hart, siel en verstand. Om ons naaste so lief te hê soos onsself. Liefde is gerig op ons hele menswees, in elke fasset van ons bestaan. Getuig dit wat ek doen, van liefde vir God, en liefde wat my naaste opbou?

Wanneer Jesus Here van my lewe is, wil ek liefhê, soos Hy. Dan kom my lewe in pas met dit wat God bedoel het my lewe moet wees. Die gevolg van ‘n lewe in harmonie met Jesus: Vreugde! Wanneer ons liefhet, is daar vrede tussen ons en God. Dan kan ons lewe met blydskap. Dan maak ons lewe sin vir onsself, en vir die mense rondom ons. Waar daar vrede met God, en met my naaste is, daar kan ek in blydskap voluit vir Jesus lewe.

Gebed: Here Jesus, U is my blydskap en my vrede in hierdie lewe. Dankie dat U die Vader se liefde met my kom deel het. Dankie dat u liefde my hele lewe kom nuut maak. Verander my so dat ek elke dag ‘n kanaal van u liefde na die mense rondom my kan wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS