Bible Society of South Africa

Jesus die ware Wingerdstok – 11 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

Die ware wingerdstok

1“Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. 2Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra.

JOHANNES 15:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons het Sondag die grootste van Christelike feesdae gevier. Met die Opstandingsdag vier ons dat Jesus die dood oorwin het, en nuwe lewe kom gee vir elkeen wat Hom volg. Hy het met beeldspraak hierdie nuwe lewe in Johannes 15 verduidelik.

God die Vader is die Boer. Hy het ‘n belegging gemaak toe Hy die aarde geskape het. Die landbouer se begeerte is om baie vrug te sien. Jesus word vir ons bekend gestel as die wingerdstok / druiwestok. Die druiwestok het sy wortels diep in die aarde. Hy gee alles wat die loot nodig het om vrug te dra. In landbousin sou dit die water en minerale wees wat nodig is. In hierdie konteks gee Jesus aan sy volgelinge alles wat ons nodig het om geestelik te lewe, te groei en vrug te dra. Hy verwag dat elke loot vrug sal dra.

Sommige lote dra nooit vrug nie, en word afgesny. Die lote wat vrug dra, word gesnoei om nog meer vrug te dra. Ons wat in druiwewêreld bly, verstaan hierdie beeld. Wilde lote dra nie vrug nie. Al die groeikrag gaan in die vorming van welige blare in. Maar ‘n loot wat kundig gesnoei is, stoot sy energie in die vorming van heerlike druiwekorrels in.

God die Vader het ons uit liefde geskape. Sy begeerte van die begin af was om in ‘n verhouding met sy kinders te lewe. Hy het vir ons sy Seun gestuur om die ware lewe vir ons te bied. Hy het alles kom gee wat ons nodig het om geestelik te groei. Hy sorg dag vir dag vir ons. Wanneer ons net vir onsself lewe, dan is ons soos die wilde lote wat welig groei, maar niks vrug dra nie. Wanneer ons lewe net om onsself en ons eie behoeftes draai, dan is ons selfsugtig, en kom nie by God se droom vir ons lewens uit nie. Daarom laat die Here ook toe dat ons soos lote soms gesnoei word. Ons gaan deur moeilike tye, ons ervaar beproewings wat ons soms diep raak. In hierdie snoeiproses is dit glad nie die Here se plan om ons te vernietig nie. Snoei vorm ons, en help ons om die regte prioriteite in die lewe uit te leef.

God se plan vir ons lewe is altyd goed. Ons is veilig in sy hande. Die vrug wat Hy van ons vra, sal Hom eer. Dit sal ons self opbou. En dit sal ons naaste se lewe verryk. Die vrug wat die Here vra, sal die wêreld se grootste honger stil. Ons gaan hierdie week in meer diepte daarna kyk.

Gebed: Here, dankie dat ek veilig in u hand is. Dankie dat U vir my die ware lewe kom gee het, en my help om vrugbaar te lewe tot u eer. Help my om U te vertrou wanneer daar in my lewe gesnoei word. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS