Bible Society of South Africa

'n Tyd vir alle dinge! - 1 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

Elke ding het sy vaste tyd

1Elke ding het sy vaste tyd,

elke ding in hierdie wêreld het sy tyd:

PREDIKER 3:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die lewe is ‘n reis. Dag vir dag is ons besig om ons lewenspad te stap, met al die wonderlike geleenthede en uitdagings wat dit ook al mag inhou. Ek het gedurende September die voorreg gehad om die twee weke lange Pelgrimstog van Hoop Tuinroete te stap, vanaf Uniondale tot by die St Blaize vuurtoring in Mosselbaai. Met hierdie reis, soos met vorige ervarings van die Camino de Santiago, het ek tyd gehad om weer stil te word, en diep te dink oor die gang van my lewe.

Soms voel dit vir my asof my lewenstempo al hoe vinniger begin word. Die eise van elke dag word al hoe meer. Ons leef in ‘n wêreld wat prestasiegedrewe is, tyd is geld. Daar is ook so baie dinge waarin ek belang stel, goeie dinge om met my tyd te probeer doen. Daarom word my dagboek al hoe voller, en sukkel ek al meer om alles in te pas wat ek by moet uitkom. Ervaar jy dit ook so? Diep in ons gees is daar ‘n roepstem op ‘n dag wat sê: Stop! Waarmee is jy besig? Is al daardie dinge wat jou so jaag, regtig nodig? Is dit wat die Here vir jou lewe beplan het? Of is jy besig om vir die applous van ‘n ander skare te speel?

In hierdie maand wil ons weer nadink oor die tye van ons lewe. Oor dit wat die Here op ons pad plaas. Dit wat Hy graag wil hê moet gebeur in ons lewe. Mag ons ook raaksien as iets nie van Hom af kom nie. As daar dalk dinge en sake wat kosbare tyd in ons lewens steel, en wat ons lewensvreugde saamneem in die proses.

Mag ons weer ontdek dat ons ure, dae, maande en jare kosbare geskenke uit die hand van die Here is. Mag ons, soos Paulus in Efesiërs 5:16 gesê het, die beste gebruik maak van elke geleentheid wat die Here oor ons lewenspad gebring het. Mag ons tye en die Here se tyd in harmonie wees!

Gebed: Here, dankie dat U die ewige God is, bo tyd en plek verhewe. Maar dankie dat U vir my in hierdie wêreld, vir hier en nou geskape het. Dankie dat die tyd van my lewe ‘n geskenk uit u hand is. Help my om dit goed te benut! Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS